Aardbewing

Die episentrum van aardbewings wêreldwyd vanaf 1963–1998.
Wêreldwye bewegings van tektoniese plate.

'n Aardbewing is die waarneembare skud van die aarde se oppervlakte as gevolg van die skielike vrystelling van energie in die aardkors wat seismiese golwe vrystel. Aardbewings kan gewelddadig genoeg wees om mense rond te gooi en stede totaal te verwoes. Die seismiese aktiwiteit in 'n gebied verwys na die frekwensie, tipe en die omvang van aardbewings wat oor 'n bepaalde tyd voorkom.

Aardbewings wek gewoonlik wye openbare belangstelling as gevolg van die verwoesting en lewensverlies wat algemeen daarmee gepaard gaan. Die meeste skade word gewoonlik aangerig deur vallende geboue en brande wat uitbreek. Brandwaterpype word gewoonlik beskadig en daarom woed die brande onverstoord voort. Grondverskuiwings en sneeustortings kan in sommige gebiede deur aardbewings veroorsaak word en groot skade kan aan ondersese kommunikasiekabels aangerig word, asook groot visvrektes te wyte aan ondersese aardbewings.

Aardbewings word gemeet volgens waarnemings op seismograwe. Die Moment-magnitude-skaal is die algemeenste skaal waarvolgens aardbewings groter as sowat 5 vir die totale aarde aangeteken word. Die meertallige aardbewings minder as omvang 5, wat by nasionale seismologiese waarnemingstasies gemeet word, is meestal op die plaaslike omvangskale gegrond, wat dikwels na verwys word as die Richterskaal. Die twee skale is numeries eenders.  Omvang 3 is meestal byna onsigbaar of swak en omvang 7 rig ernstige skade oor wye gebiede aan, afhangende van die diepte daarvan. Die grootste aardbewings in menseheugenis was net bietjie meer as 9 gemeet, hoewel daar geen beperkings op die omvang van so 'n aardbewing is nie. Die intensiteit van die skud word gemeet op die aangepaste Mercalliskaal. Hoe vlakker die aardbewing gebeur, hoe meer verwoestend is dit vir huise, geboue en ander strukture.[1]

Aardbewings kan ook veroorsaak word deur mynbedrywighede, soos in 2005 by Stilfontein en Klerksdorp in Noordwes. Gewoonlik is die werklike beweging baie klein, bv. 'n paar sentimeter of selfs minder, maar dit gebeur so skielik dat die uitwerking op die oppervlakte chaoties kan wees.

Oor die algemeen word die woord aardbewing gebruik om enige seismiese gebeurlikheid te beskryf- of dit nou natuurlik- of deur die mens self veroorsaak word- wat seismiese golwe veroorsaak. Aardbewings word in die meeste gevalle veroorsaak deur die skeuring van geologiese verskuiwings, maar ook as gevolg van ander aktiwiteite soos vulkaniese uitbarstings, grondstortings, en kerntoetse. 'n Aardbewing se punt van aanvanklike skeuring word die fokus of hiposentrum genoem. Die episentrum is die punt op grondvlak reg bokant die hiposentrum.

Wanneer 'n aardbewing aan 'n kuslyn of onder die see plaasvind, kan daar 'n reuse getygolf, of tsoenami, ontstaan. Hierdie golwe kan ontsaglike skade aan laagliggende kuslyne veroorsaak. Aardbewings kom in sommige dele van die aarde meer dikwels as in ander voor. Die gebiede wat die meeste geraak word lê langs 'n omvangryke gordel wat feitlik oor die hele aarde strek. Hierdie gevaargebiede kan nagespeur word vanaf die weskus van Suid-Amerika, oor Sentraal-Amerika en die Karibiese eilande en verder noordwaarts met die Stille Oseaan tot langs die weskus van Noord-Amerika. Daarna swaai die gordel weswaarts weg deur die Aleoetiese Eilande na Asië en omspan die hele ooste en suidooste van Asië met die aanliggende eilande, om daarna weer weswaarts uit te dy na die Mediterreense streke en na Suid-Europa.

  1. "Earthquake FAQ". Crustal.ucsb.edu. Besoek op 24 Julie 2011.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne