Google Doodle

’n Google Doodle is ’n spesiale, tydelike verandering aan Google se logo op die soekenjin se tuisblad wat gebruik word ter viering van ’n vakansiedag, gebeurtenis of mens. Die eerste Google Doodle het verband gehou met die Burning Man-fees van 1998, en is deur Larry Page en Sergey Brin ontwerp om gebruikers van hul afwesigheid in kennis te stel ingeval iets sou fout gaan met die webbedieners. Daarna is Google Doodles deur buitemense gedoen, totdat Page en Brin die intern Dennis Hwang in 2000 gevra het om ’n logo vir Bastilledag te ontwerp. Van toe af is Doodles georganiseer en ontwerp deur ’n span werknemers wat as "Doodlers" bekend is. Aanvanklik was Doodles net beelde wat met ’n spesifieke tema verband gehou het. Teen die begin van die 2010's het hul frekwensie en ingewikkeldheid toegeneem en in Januarie 2010 is die eerste geanimeerde Doodle opgelaai ter ere van Isaac Newton. Die eerste interaktiewe Doodle het kort daarna verskyn ter viering van Pac-Man, en hiperskakels is ook later bygevoeg – gewoonlik na soekenjinresultate oor die onderwerp van die Doodle. Teen 2014 het Google al 2 000 streeks- en internasionale Doodles geskep, dikwels ter ere van groot kunstenaars, musikante en ander persoonlikhede.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne