Hudsonbaai

Hudsonbaai

Nasa-Satellietbeeld van die Hudsonbaai

Kaart van die Hudsonbaai
Koördinate:60°N 85°W / 60°N 85°W / 60; -85
Ligging:Manitoba, Nunavut, Ontario, Quebec (Kanada)
Soort:See van die Arktiese Oseaan/Atlantiese Oseaan
Oppervlakte:1 230 000 km² (470 000 myl²)
Gemiddelde diepte:100 m (330 vt)
Maksimum diepte:270 m (890 vt)
Lengte:1 370 km (851,28 myl)
Breedte:1 050 km (652,44 myl)
Invloei:Albany, Churchill, Nelson, Nottaway, Severn
Uitvloei:Arktiese Oseaan/Atlantiese Oseaan
Eiland/e:Belcher-eilande, Coats-eiland, Mansel-eiland, Southampton-eiland
Nedersettings:Churchill, Sanikiluaq
Gevries:mid-Desember tot mid-Junie

Die Hudsonbaai (Engels: Hudson Bay, Frans: Baie d'Hudson) is 'n baai in die noordooste van Kanada. Sy uitgestrekte wateroppervlakte beslaan 1,23 miljoen vierkante kilometer, en die baai dreineer 'n baie groot gebied wat onder meer dele van Ontario, Quebec, Saskatchewan, Alberta, die grootste deel van Manitoba, dele van Noord-Dakota en Minnesota, en die suidooste van Nunavut insluit. 'n Kleiner tak van Hudsonbaai, Jamesbaai, lê in die suide.

'n Kaart van Rupert's Land wat deur die Britse Hudson's Bay Company beheer is
Die seehawe van Churchill (Manitoba)

Die Internasionale Hidrografiese Organisasie (IHO) lys Hudsonbaai in sy Special Publication 23 (Limits of Oceans and Seas, vierde uitgawe) as 'n deel van die Arktiese Oseaan. In die ooste word die baai deur die Hudson-seestraat met die Atlantiese Oseaan se Labradorsee verbind en in die noorde deur die Foxe-bekken (wat nie as deel van Hudsonbaai beskou word nie) met die res van die Arktiese Oseaan. In die noorde van die Hudsonbaai is Southampton-eiland, die grootste eiland, geleë. Ander eilande sluit in Belcher-eilande in die suidooste, Coats- en Mansel-eiland in die noorde. Sy geografiese koördinate is 78° tot 95° Wes, 51° tot 70° Noord.

In die Oostelike Cree-taal word die baai Wînipekw (suidelike dialek) of Wînipâkw (noordelike dialek) genoem, wat letterlik "brakwater" beteken. Die plaaslike Cree het 'n eenderse naam vir die Winnipegmeer.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne