Kampioenetrofee 2002

Die Kampioenetrofee 2002 (Engels: 2002 ICC Champions Trophy) is van 12 tot 30 September 2002 in Sri Lanka beslis. Dit was die derde Kampioenetrofee in EDI-krieket wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied is en ná die Asiatiese Bekertoernooie in 1986 en 1997 die derde vername kriekettoernooi geheel en al in Sri Lanka. Die land was voorheen een van die medegashere tydens die Krieketwêreldbeker 1996, saam met Indië en Pakistan. Twaalf nasionale krieketspanne het aan die Kampioenetrofee 2002 deelgeneem: Die destydse tien toetskrieketlande (Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe) saam met die assosiaatlede Kenia en Nederland. Die spanne is in vier groepe van drie elk verdeel, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die beste span van elke groep het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die wenners het mekaar in die eindstryd ontmoet. Australië, Indië, Sri Lanka en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Indië het Suid-Afrika en Sri Lanka het Australië geklop, waardeur die twee Suid-Asiatiese spanne in die eindstryd ontmoet het. Nadat die eindstryd twee keer uitgereën het, het Indië en Sri Lanka die titel gedeel. Die verdedigende kampioen Nieu-Seeland is reeds in die groepfase uitgeskakel.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne