Koran

Al-Fatiha, die eerste soera van die Koran
'n Oopgeslane Koran
Volgens die Islamitiese geloof het Mohammed die engel die eerste keer in die Hira-grot gesien
Deel van Al-Alaq – 96ste Sura van die Koran – die eerste openbaring wat Mohammed ontvang het
Birmingham se Koranmanuskrip, een van die oudstes in die wêreld
'n Bladsy uit 'n Koran uit die 9de eeu
Kinders in Senegal studeer die Koran
'n 11de-eeuse Noord-Afrikaanse Koran in die Britse Museum

Die Koran (Arabies: القرآن, al-qur'ān, [alqur'ʔaːn]) is die Heilige Skrifte van die Islam, wat die openbaring bevat wat Mohammed klaarblyklik van die engel Gabriël ontvang het. Ná Mohammed se dood is die openbarings uit aantekeninge en mondelinge oorlewering versamel en geredigeer. Die oudste Koran-redaksie sou dié van kalief Oethman (ongeveer 650) wees. Ander spellings is Quran, Koer'aan Qoer'aan of Qur'aan

Die Koran is verdeel in 114 hoofstukke (soeras), onderverdeel in verse (ajat). Die eerste soera (al-Fatiha) is kort. Elke soera meld of dit in Mekka of Medina geopenbaar is. Die korter stukke kom gewoonlik uit Mekka en bevat die waarskuwing oor die Laaste Oordeel en vertel van die Eenheid en Enigheid van Allah. Die latere soeras kom uit Medina en handel oor beloning en straf in die hiernamaals, asook wetgewende voorskrifte en polemiek met Jode en Christene met wie Mohammed in aanraking gekom het in Medina.

Moslems beskou die Koran as 'n wonder waarmee die egtheid van Mohammed se sending bewys word. Moslems huldig die opvatting dat die inhoud ewig en 'ongeskape' is, omdat dit presies ooreenstem met Allah se oereksemplaar in die hemel. Die Koran bevat die laaste en definitiewe openbaring ná die Tora se Evangelie- heilige boeke, wat eweneens aan 'n hemelse oereksemplaar ontleen is, maar deur die besitters (Jode en Christene) vervals en vermink is. Die Koran is die mees gesaghebbende bron van die Moslemse teologie (kalam) en pligsleer (fikh), al is daar later verskil ten opsigte van interpretasie en regskole.

Groot dele van die Koran is geskryf in rymprosa. Sonder dat kommentare geraadpleeg word, is die Koran moeilik verstaanbaar. Pragtige en kosbare handgeskrewe eksemplare kan in sommige private en openbare biblioteke besigtig word. 'n Vers word soms voorgedra met 'n speiale soort voordrag bekend as tadjwid.

Die belangrikste en gesaghebbendste bron van inligting oor die Islamitiese godsdiens is die Koran, wat bestaan uit openbaringe wat die profeet Mohammed tussen 610 en 632 n.C. deur visioene ontvang het. Met tussen 700 en 1 200 miljoen Moslems op aarde wat die Koran as die "foutlose en volledige woord van God (Allah)" beskou, beteken dit dat dié geskrif vandag die geestelike hoeksteen is van een uit elke ses mense op aarde. Daar is verskillende menings oor die presiese betekenis van die woord "Koran" (Qur'an), maar die algemeenste verklaring is dat dit "voordrag" beteken, wat verwys na die boodskap wat Mohammed in die visioene ontvang het en wat hy aan die mense moes voordra of verkondig.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne