Medusa

Medusa
Griekse monster
Medusa, deur Caravaggio (1592-1600).
Medusa, deur Caravaggio (1592-1600).
Naam Medusa
Man Poseidon
Kinders Pegasus en Chrysaor
Ouers Phorkys en Keto
Broers en susters Die Hesperides, Stheno, Euryale, die Graeae, Thoosa, Scylla en Ladon

Medusa (Grieks: Μέδουσα) was in die Griekse mitologie ’n Gorgo, ’n vroulike monster en een van drie susters. Sy het slange in plaas van hare op haar kop gehad en enigiemand wat na haar gekyk het, het in klip verander.

Volgens Hesiodus[1] was Medusa die enigste van die Gorgone wat sterflik was. Ovidius vertel Medusa was eers pragtig en het slange op haar kop gekry toe sy deur Athena vervloek is. Medusa het met Poseidon omgang gehad in ’n tempel van Atena nadat Poseidon deur die goue kleur van haar hare aangetrek is. Atena het toe die aanloklike goue hare in slange verander.[2]

Sy is eindelik deur Perseus onthoof met die hulp van die gode Hermes, Athena en Hades. Hermes het vir hom ’n antieke swaard gegee, Athena haar goed gepoleerde bronsskild en Hades sy helm van onsigbaarheid.

Nimfe het vir hom die pad aangewys. Toe hy in die grot kom waar die Gorgone geslaap het, het hy na Medusa se weerkaatsing in Athena se blink skild gekyk. So kon hy veilig tot by haar kom en haar kop afkap. Van die bloed wat uit haar nek gespuit het, het Pegasus, haar seun by Poseidon, ontstaan. Volgens ander bronne het elke druppel bloed in ’n slang verander. Die ander twee Gorgone het Perseus probeer vang, maar danksy die helm van onsigbaarheid het hy ontsnap.

  1. Hesiodus, Theogonie 277
  2. Ovidius, Metamorfoses iv, 792-802

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne