Mode

Following the fashion.
Begerig om die nuutste modes te volg.
Spotprent deur James Gillray (1794)
Kleurryke kontemporêre Afrika-modes

Mode (afgelei van die Franse mode; van Latyns modus "maat", "soort", met die oorspronklike betekenis "iets wat gemeet is" of "iets wat opgeneem is") verwys na die heersende smaak binne 'n bepaalde tydperk, die manier waarop iets gedoen, gekoop of aangetrek word. Die term word veral met kleremodes verbind.

Modestyle is onderhewig aan konstante verandering, die sogenaamde modesiklus, in pas met mense se leefstyl en lewensgevoel. As manifestasies van tydgees is modestyle kortstondig van aard; so word style, wat oor 'n relatief lang tydperk gewild bly, nie meer as modes in die nouer sin gekategoriseer nie, maar as klassieke style. Baie kortstondige modes, wat dikwels slegs om een enkele produk draai, word fads genoem.

Die modesiklus bestaan uit vyf fases:

  • bekendstelling,
  • verhoging in gewildheid,
  • piek van gewildheid,
  • afname in gewildheid en
  • verwerping.[1]

Al is modeontwerp 'n erkende kunsvorm en 'n akademiese vak, het mode tot dusver nouliks ingang gevind tot die kanon van politieke of kulturele kennis, wetenskap en navorsing, ongeag die rol wat mode as maatskaplike tekenstelsel veral in die leefwêreld van jongmense speel.[2]

  1. Gini Stephens Frings: Fashion: From Concept to Consumer. Upper Saddle River, New Jersey: Prentice Hall 1987, bl. 47
  2. Sabine Dengel: Mode. Ein Thema für die politische Bildung? In: Dossier Kulturelle Bildung, Bundeszentrale für politische Bildung, 14 Januarie 2015. Besoek op 19 April 2016

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne