Natuurbewaring

NASA-foto van ontbossing in Bolivië, Suid-Amerika.

Natuurbewaring behels veral die pogings om niks wat in die natuur bestaan, verlore te laat gaan nie - veral nie vanweë die aktiwiteite van die mens nie. Só 'n poging omvat alle natuurlike hulpbronne in die litosfeer, hidrosfeer en atmosfeer en alle lewende organismes wat daartoe meehelp om die balans te bewaar. Verstandige, korrekte en oordeelkundige bewarings- en benuttingsmetodes is dus van die allergrootste belang in natuurbewaring.

Die hoofdoel van natuurbewaring is dan ook om voorsiening te maak vir die sorgvuldige bewaring en die oordeelkundige benutting van fauna, flora en natuurlike hulpbronne tot voordeel van huidige en toekomstige geslagte. Baie provinsiale, streeks- en munisipale organisasies dra ook ruim tot die bewaring van natuurerfenis by. Vandag is daar egter min ongeskonde omgewings wat oorbly - oral is die mens se stempel van vernietiging duidelik afgedruk.

Menslike oorbevolking en alles wat daarmee gepaard gaan, is waarskynlik die grootste bedreiging vir sinvolle natuurbewaring. Die wêreldbevolking van oor die 7 miljard mense bring baie ernstige probleme mee. Teen die tempo waarteen die bevolking groei, sal daar teen 2400 net ongeveer een vierkante meter grond per persoon beskikbaar wees. Terselfdertyd is dit noodsaaklik om te onthou dat natuurlike hulpbronne nie onuitputbaar is nie.

In sy boek Ekologie - beginsels en toepassings stel professor Ryke dit só: "In die wêreld van vandag hou die mens se groot probleme dus verband met die drie B's: besoedeling, bevolkingsgroei en behoeftigheid." Die basiese doelstelling van elkeen behoort dus altyd te wees om alle hulpbronne só te bewaar en te benut dat daar steeds 'n voldoende voorraadvloei sal wees vir latere generasies.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne