Sigma-binding

σ-binding tussen twee atome. Die elektrondigtheid is gelokaliseer tussen die atome. Daar is geen knooppunt tussen die twee atome nie.

In die chemie is sigma-bindings (σ-bindings) die sterkste tipe kovalente chemiese binding.[1] Dit is as gevolg van die direkte oorvleueling van orbitale, en daar word soms na die elektrone in hierdie bindings verwys as sigma-elektrone.[2]

Die bindings word gevorm deur kop-aan-kop-oorvleueling tussen atoomorbitale en 'n sigma-binding is simmetries ten opsigte van rotasie om die bindingsas.[3] Kwantumteorie dui aan dat molekulêre orbitale met identiese simmetrie eintlik meng of verbaster en die omvang van hierdie vermenging (of verbastering) hang af van die relatiewe energieë van die molekulêre orbitale met dieselfde simmetrie.

Vir molekules met net twee van die selfde atome (bv. H2) het die σ-orbitale wat deelneem aan die binding geen nodale vlakke waarop die golffunksie nul is nie, hetsy tussen die atome of deur die atome. Die ooreenstemmende antibinding-orbitaal, of σ*-orbitaal, word gedefinieer deur die teenwoordigheid van een knooppunt tussen die twee atome.

Gewoonlik is 'n enkele binding 'n sigma-binding, terwyl 'n veelvoudige binding uit een sigma-binding saam met pi- of ander bindings bestaan. 'n Dubbelbinding het een sigma- plus een pi-binding, en 'n drievoudige binding het een sigma- plus twee pi-bindings.

  1. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Moore
  2. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Keeler
  3. Verwysingfout: Invalid <ref> tag; no text was provided for refs named Clayden

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne