Twitter

X, voorheen bekend as Twitter, is 'n sosiale netwerk- en mikrojoernaaldiens wat gebruikers in staat stel om boodskappe, bekend as tweets, te versend en te lees. Tweets is teksgebaseerde boodskappe van tot 140 karakters wat op die outeur se profiel gepubliseer word en aan die outeur se subskripsiegehoor, bekend as followers (volgelinge), gestuur word.Die verstekverstelling is dat boodskappe in die openbaar vrygestel word, maar gebruikers kan aflewering beperk tot diegene in hul virtuele vriendekring. Gebruikers kan tweets via die Twitter-webwerf, SMS of ander eksterne toepassings stuur en ontvang. Alhoewel die Twitterdiens op sigself niks kos nie, betaal gebruikers wel vir toegangskostes soos internet- of SMS-fooie aan hul persoonlike telekommunikasiediensverskaffer. Die 140-karakterbeperking wat boodskappe op Twitter dra is aanvanklik ingestel sodat boodskappe met SMS-kommunikasie versoenbaar sou wees, en hierdie beperking het tot gevolg gehad dat die snelskrif en internetsleng wat gewoonlik in SMS'e gebruik word, nou ook na die web gebring is. Die 140-karakterbeperking het ook die gebruik van URL-verkortingsdienste soos tinyurl, bit.ly en tr.im, en inhoudsakkommoderingsdienste soos Twitpic en NotePub aangemoedig, omdat hierdie inhoud en teks gewoonlik meer as 140 karakters beslaan. Sedert dit in 2006 deur Jack Dorsey geskep is, het Twitter wêreldwyd beroemd en gewild geraak. Dit word soms as die "SMS van die internet" beskryf. Twitter het hul nuus- en inligtingsnetwerkstrategie in November 2009 beklemtoon deur die vraag wat dit gebruikers vir statuswysigings vra van "What are you doing?" (Afrikaans: Wat doen u?) na "What's happening?" (Afrikaans: Wat gebeur?) te verander. Twitter word deur Alexa se webverkeeranalise as een van die vyftig gewildste webwerwe ter wêreld gelys. Alhoewel skattings oor die aantal daaglikse gebruikers van die diens verskil omdat die maatskappy nie die aantal aktiewe rekeninge bekend maak nie, het 'n Compete.com-webjoernaalinskrywing in Februarie 2009 Twitter as die derdegrootste sosiale netwerk aangedui gebaseer op hul beraming van 6 miljoen unieke maandelikse besoekers en 55 miljoen maandelikse besoeke. In Maart 2009 het 'n Nielsen.com-webjoernaal Twitter as die snelgroeiendste webwerf in die lidmaatskapgemeenskappekategorie vir Februarie 2009 gelys. Twitter het 'n maandelikse groeikoers van 1 382 persent gehad en Zimbio het 240 persent behaal, gevolg deur Facebook met 'n toename van 228 persent. Vanaf 5 April 2022 is die grootste aandeelhouer van Twitter Elon Musk met 'n belang van 9,2% in die maatskappy.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne