Wikipedia

Wikipedia
Tipe webblad Wiki
Taal(e) Veeltalig, insluitend Afrikaans
Registrasie Opsioneel
Eienaar Wikimedia Stigting
Outeur Die gemeenskap
Opgerig 15 Januarie 2001
Huidige status Aktief
URL http://af.wikipedia.org/

Wikipedia is 'n veeltalige "kopielinkse" ensiklopedie ontwerp om deur enigiemand gelees, verbeter en uitgebrei te word. Dit berus op samewerkende verandering en onderhoud deur duisende gebruikers deur middel van wiki-sagteware, en word verskaf en ondersteun deur die nie-winsgewende Wikimedia-stigting. Waarnemers beskou die tweeledige bestuur, waarin 'n informele gemeenskap van aktiewe gebruikers die gesag oor 'n globale digitale projek met 'n stigting deel en sodoende formele met informele organisasiestrukture verbind word, as 'n eksperiment wat steeds aan die gang is.[1]

Afgesien van tipiese ensiklopedie-inskrywings sluit Wikipedia ook inligting in wat meer algemeen verbind word met almanakke, aardrykskundige woordeboeke en spesialis-tydskrifte, asook dekking van huidige gebeure.

Daar bestaan tans Wikipediaweergawes in 327 tale en daar is ongeveer 114 000 aktiewe gebruikers (meer as 44 miljoen geregistreerde gebruikers) wat saamwerk aan die Engelse uitgawe van Wikipedia, wat dit moontlik gemaak het om die ensiklopedie in minder as vier jaar te laat groei tot die wêreld se grootste ensiklopedie, tans met meer as sesmiljoen artikels (wat steeds groei teen 'n tempo van duisende per dag). As die weergawes in al die tale bymekaar getel word, bevat Wikipedia meer as 59 miljoen artikels.

Wikipedia is een van die gewildste verwysingswerwe op die Web, met ongeveer 80 miljoen besoeke per dag. Wikipedia ontvang lof vanweë die feit dat dit vrylik toeganklik is en 'n wye reeks onderwerpe in diepte dek. Dit is al gekritiseer vir die potensiaal wat dit het om onakkurate inligting te bevat, die gebrek aan gesaghebbendheid teenoor 'n tradisionele ensiklopedie, vir 'n sistematiese vooroordeel en vir gebreke in die meer tradisionele ensiklopediese onderwerpe. Vandalisme is 'n gereelde probleem, hoewel dit oor die algemeen vinnig opgemerk en artikels maklik en gou herstel word.

  1. www.bpb.de, 23 November 2012: Wikipedia - Formale Organisation und informale Gemeinschaft. Besoek op 16 Februarie 2016

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne