Ysberg

Ysberg met brug by Groenland
Ysberg in die omgewing van Upernavik (Groenland)

'n Ysberg is 'n groot stuk varswater ys wat van 'n gletser of yskap afgebreek het en in die see ronddryf. Die Engelse term iceberg is 'n leenvertaling van die Nederlandse ijsberg. Die digtheid van 'n ysberg is minder as die van seewater, wat beteken dat ysberge in die oseaan dryf. Die digtheidsverskil is egter nie baie groot nie (ongeveer 920 teenoor 1025 kg/m³) en dus dryf slegs omtrent een tiende van die ysberg bo die water. Ysberge kom meestal naby die pole voor.

Die feit dat slegs 'n gedeelte van die ysberg bo die water gesien kan word, hou potensieel 'n groot gevaar vir skeepvaart in.

Seker die bekendste ysbergramp was toe die lynskip, die Titanic, op 14 April 1912 teen 'n ysberg gebots het. Die skip was spesiaal ontwerp om so 'n ramp te oorleef, en is as 'n triomf  van die menslike  vernuf oor die natuur beskou. Maar die Titanic het op sy nooiensvaart na die V.S.A. teen 'n ysberg gebots, en gesink. Altesame 1 519 mense - die meerder­heid van sy passasiers en bemanning - het saam met die skip vergaan.

Drie vorms van see-ys word in die Antarktiese en Arktiese oseane aangetref. Die eerste  word  gevorm wanneer  die see-oppervlak  in die winter  verys. Dit is ware see-ys. Die tweede is ys wat op land versamel en in die vorm van gletsers na die see gevoer word waar dit afbreek  en wegdrywe. Dit is ysberge. Die derde vorm kom net in die Suidelike Halfrond voor en word tafelysberge genoem. Hulle breek van die drywende ysbank af wat permanent om die Antarktiese kontinent uitsteek.

Die meeste ysberge is afkomstig van Groenland en Antarktika wat albei met ysvelde van kontinentale omvang bedek word. Baffin-eiland en die ander eilande van die Kanadese Argipel het betreklike klein gletsers wat klein ysbergies voortbring. Omdat die ysberge van Groenland en Antarktika so geweldig groot is, word hulle dikwels deur seestrome oor groot afstande ewenaarwaarts  vervoer voordat hulle smelt.

Op min ander plekke op aarde bereik gletsers die see. 'n Gletser in die Jokel-fjord in  Noorweë loop tot in die see, asook enkeles in suidelike Chili, Terra  del Fuego en Alaska. Hierdie ysbergies smelt gou in die warmer omgewings.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne