Yskas

Die proses van hitte wat na die buitekant van die yskas geneem word.

ʼn Yskas of koelkas bestaan uit ʼn termiese geïsoleerde kompartement en ʼn hitte-pomp, wat hitte vervoer vanaf die binnekant van die yskas na die buitekant. Sodoende bly die yskas koel en behou ʼn temperatuur onder die gemiddelde kamertemperatuur. Om kos in ʼn yskas te bêre verlaag ook die kans van reproduksie van bakterieë, so bly kos ook langer eetbaar.  

Wanneer 'n elektriese verwarmer aangeskakel word, word dit gou rooiwarm en straal hitte uit. Maar wanneer die elektriese yskas of vrieskas aangeskakel word, word die teenoorgestelde resultaat verkry: die temperatuur daal tot benede die vriespunt.

'n Elektriese stroom wat regstreeks gebruik word, lewer net hitte; in ʼn yskas word elektrisiteit net gebruik om die kompressor aan te dryf.

Die rede hoekom dit binne ʼn yskas kouer is as buite kan as volg uiteen gesit word:

  • Wanneer 'n vloeistof in ʼn gas verander, absorbeer dit hitte. Hierdie wet verklaar ook waarom ʼn mens koeler voel wanneer jou sweet droog; die sweet, 'n vloeistof, verdamp en word 'n gas. In die proses absorbeer dit hitte van die vel, en word die vel dus afgekoel.
  • Dit spreek dus vanself dat wanneer ʼn gas tot 'n vloeistof kondenseer, dit hitte moet uitstraal.
  • Wanneer ʼn gas saamgedruk of saamgepers word, styg sy temperatuur. Dit is waarom 'n fietspomp warm word as ons ʼn fietsband oppomp.

In die yskas word sekere chemiese stowwe gebruik wat by normale druk en kamertemperatuur in gasvorm verkeer. Hul eienskappe is egter sodanig dat hulle maklik saamgepers en afgekoel kan word om hulle in vloeistowwe te laat verander.

Yskas

Voorbeelde van hierdie chemiese stowwe is Freon (dichloor-difluoormetaan, CCl2F2), swaweldioksied (SO2), ammoniak (NH3) en metielchloried (CH3Cl). Hierdie chemiese stowwe word koelgasse genoem. In die yskas sirkuleer hulle deur pype waarin hulle verander van 'n vloeistof in 'n gas; wanneer hierdie verandering plaasvind, trek hulle hitte uit die binnekant van die yskas en koel dit sodoende af.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne