Blom

Twaalf spesies blomdraende plante van verskillende families.

’n Blom is ’n plantorgaan wat aangepas is om ’n voortplantingsfunksie te vervul. Blomdraende plante val in die afdeling Magnoliophyta, ook bekend as bedeksadiges. Die plant vorm gewoonlik in die lente nuwe blomhoofde, waarin die saadjies later ontwikkel en dan in die nasomer ryp word. Die saadjies versprei daarna op verskillende maniere, byvoorbeeld deur wind, water, insekte of voëls. Dit verseker die plant se voortbestaan.

Blomme kan voortplant deur die samesmelting van sperma (stuifmeel) en eiers (saadknoppies) van verskillende individuele plante of van dieselfde plant. Sommige blomme vervaardig spore sonder bevrugting. Baie blomme het so ontwikkel dat hulle sekere diere lok – dié diere dra ’n blom se stuifmeel oor na ’n ander blom. Ná bevrugting ontwikkel die eier van die blom in ’n vrug met saad.

Die morfologie van verskillende blomme is ’n belangrike hulpmiddel by die uitkenning en klassifisering van plante, selfs belangriker as die kenmerke van die blare van plante. Blomme word al lank bewonder en bring skoonheid na die menslike omgewing. Hulle is die onderwerp van romanse, rituele en godsdiens, en word gebruik vir medisyne en kos.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne