Concorde

Concorde
Tipe Passasiersvliegtuig
Bemanning 3 tegniese en 6 kommersiële vlieëniers
Eerste vlug 2 Maart 1969
Laaste vlug 24 Oktober 2003
Vervaardigers Aérospatiale
British Aircraft Corporation
Afmetings
Lengte 62 m
Vlerkspan 26 m
Hoogte 11,40 m
Vlerkoppervlak 328 m²
Massa en kapasiteit
Leë gewig 92 080 kg
Maksimale opstyggewig 185 070 kg
Passasiers 100 passasiers
Bagasies 4 347 kg maksimum
Kragbron
Enjins 4 Rolls-Royce/Snecma Olympus 593-enjins
Werkverrigting 4 X 17 260 Kgp of 69 040 Kgp totaal
Snelheid
Kruissnelheid Mach 2,04 (2 519,4 km/h)
Maksimale snelheid Mach 2,23 (omtrent 2 754 km/h) rekord opgestel op 26 Maart 1974
Afstand 6 300 km
Vlieghoogte 20 000 m
Snelheid tydens opstyging 5 500 tot 6 500 m/min

Die Concorde was 'n lang, smal vliegtuig met ’n skerp gepunte neus wat teen meer as dubbel die snelheid van klank kon vlieg. Die supersoniese passasiersvliegtuig is gemeenskaplik deur die Franse en Britse lugvaartnywerhede vervaardig. Naas die Russiese Toepolef-144 was dit een van slegs twee supersoniese passasiersvliegtuie wat ooit vervaardig en in diens geneem is. Die vliegtuig, wat die tegniese naam Aérospatiale-BAC Concorde 101/102 gedra het, is volgens die ooreenkoms van 29 November 1962 tussen die Franse en Britse regerings oor 'n tydperk van 15 jaar ontwikkel en deur die Franse maatskappy Aérospatiale (tans EADS) en die Britse British Aircraft Corporation (tans BAE Systems) gebou.

'n Concorde tydens landing

Die besluit om 'n nuwe supersoniese vliegtuig te ontwikkel het op 'n kritieke tydstip vir die Britse lugvaartnywerheid gekom, nadat alle ontwikkelingsprogramme van militêre supersoniese vliegtuie gestaak is. Die Concorde-projek het 'n belangrike bydrae tot die behoud van supersoniese navorsing gelewer en was een van die voorlopers van Europa se Tornado-vegvliegtuig wat gebruik maak van Concorde se deltavlerkontwerp tydens supersoniese snelhede.

Die kruissnelheid van die Concorde was 2,04 Mach teen 'n vlieghoogte van tussen 15 650 en 18 000 meter. Dit het net soos die Franse Dassault Mirage 2000-vegvliegtuig oor deltavormige vlerke en nabrander-enjins beskik wat oorspronklik vir die Britse Avro Vulcan-bomwerper ontwikkel is. Die Concorde was ook die eerste passasiersvliegtuig voor die Airbus wat van elektroniese vliegtoerusting voorsien was.

Die eerste kommersiële dienste van British Airways en Air France op die Transatlantiese roete is op 21 Januarie 1976 ingestel. Hierdie gesogte vlugte was peperduur en het die vliegtyd vanaf Parys en Londen na New York met tussen drie en drie en 'n half uur verkort. Ná 'n noodlottige ramp naby die Paryse lughawe, waarin 113 mense gesterf het, is alle Concorde-vlugte op 31 Mei (Air France) en 24 Oktober 2003 (British Airways) gestaak. Die ramp, wat deur die bandbreuk van 'n Amerikaanse vliegtuig veroorsaak is, was die eerste in 27 jaar se diens. Die vliegtuie was egter oud en dit sou te duur wees om nuwes te bou.[1]

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne