Estrie

Die ligging van Estrie in Québec

Estrie (wat nie verwar moet word met die kulturele en toeristestreek les Cantons de l'Est nie, 'n gebied waarna in Engels meestal as die Eastern Townships verwys word) is 'n administratiewe streek in die suide van die provinsie Quebec, Kanada met 'n oppervlakte van 10 508 km². Die bevolking van sowat 400 000 is hoofsaaklik in Sherbrooke, die grootste stedelike nedersetting, saamgetrek.

Land van twee kulture: Kerk in Hatley

Estrie strek van die suidoewer van die Sint-Laurensrivier oos- en suidwaarts tot die Kanadese grens met die Amerikaanse deelstate Maine, New Hampshire, Vermont en New York. In die noorde word dit deur die Kanadese streke Centre-du-Québec en Chaudière-Appalaches en in die weste deur Montérégie begrens.[1]

Die streek, wat oorspronklik die tuisland van een van Kanada se Eerste Nasies of Indiane, die Abenaki, was, het die digste bevolking Engelssprekendes in Quebec nadat talle setlaars uit die aangrensende VSA-deelstaat Vermont hulle hier in die 19de eeu gevestig het. Alhoewel ook Britse lojaliste tydens die Amerikaanse Rewolusie hier 'n nuwe tuiste gevind het, was hulle nie die oorheersende groep Engelssprekendes in Estrie nie. As gevolg van die hongersnode in Ierland het ná 1840 ook 'n groot aantal Ierse immigrante hulle in Estrie gevestig. Die argitektuur en leefstyl in Estrie toon baie ooreenkomste met dié van Nieu-Engeland. Nogtans is intussen meer as 90 persent van die plaaslike bevolking Franssprekend.

Mynbou, landbou, toerisme en die papier- en tekstielnywerheid vorm die ekonomiese basis van die gebied. Met die uitsondering van 'n handvol stedelike nedersettings soos Sherbrooke (145 000 inwoners) het Estrie 'n oorwegend landelike karakter. Bosryke valleie, groot mere en talle parke asook skioorde maak van die gewes 'n gewilde toeristebestemming.

  1. Portail Québec: Le Québec - Portrait des régions - Estrie

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne