Homeros

Homeros
Homeros. Romeinse voorstelling van sy voorkoms.

Gebore ca. 8ste eeu v.C., volgens Herodotus
Smyrna
Melesigenes, soos vertel in Pseudo-Herodotus
Oorlede onbekend
Ios
Blyplek Smyrna, Cyme (Aeolis), Chios
Nasionaliteit Antieke Griekeland
Vakgebied Samestelling van mondelinge poësie as reisende kunstenaar, uitvoer van 'n skool vir Rapsodies, die Homeridae, op Chios
Bekend vir Ilias, Odyssee, Homeriese Himne, Epiese siklus, ander Homerika
Beïnvloed deur Rapsodiese mondelinge poësie
Invloed op Klassieke werke (Westerse kanon)

Homeros, ook Homerus (Oudgrieks: Ὅμηρος, Hómēros), is 'n Griekse digter en sanger wat volgens meeste bronne rondom die 8ste eeu v.C.[1] geleef het. Die Ilias en Odussee, die oudste bekende en bewaarde literêre werke uit die Griekse letterkunde, is van die vernaamste eposse wat aan hom toegeskryf word.

Hy het eposse gedig waarin 'n groot aantal oorgelewerde verhale oor helde, gode en mitiese vertellinge uit die Griekse kultuur verwerk is. Die vormende invloed wat die Homeriese eposse op die Griekse kultuur gehad het, word wyd erken en gee aan Homeros die titel van die onderwyser van Griekeland.[2] Homeros se werke, waarvan ongeveer die helfte uit toesprake bestaan, verskaf modelle vir oorredende skryfwerk en gesprekvoering, wat regdeur die Griekse Antieke en Middeleeuse tydperke nagevolg is. Homeriese fragmente beslaan amper helfte van die identifiseerbare Griekse papirusrolle wat tot nog toe gevind is.[3] Desondanks al die werke, is daar heelwat bespiegeling onder geleerdes of hy, indien wel, die enigste skrywer van die werke was. Verskeie leidrade uit antieke bronne wil die teendeel bewys.

Onsekerheid heers ook oor waar en wanneer hy geleef het. Herodotus skat dat Homeros ongeveer 400 jaar voor hom (Herodotos) geleef het, wat sy leeftyd rondom 850 v.C. plaas.[4] Die Nederlandse geskiedkundige Kees Ruijgh meen dat Homeros reeds in die negende eeu v.C. moet geleef het. Ander antieke bronne beweer weer dat hy nader aan die veronderstelde tyd van die Trojaanse Oorlog geleef het, rondom die vroeë 12de eeu v.C.[5] Die meeste hedendaagse geleerdes plaas Homeros egter tussen die 7de en 8ste eeu v.C.

Die onsekerhede rondom Homeros se biografie, of hy wel bestaan het of nie, asook wie werklik verantwoordelik is vir al die Homeriese werke staan bekend as die Homeriese kwessie.

  1. Herodotos 2.53.
  2. Heubeck, Alfred; West, Stephanie; Hainsworth, J. B. (1988). A Commentary on Homer's Odyssey. Oxford: Oxford University Press. p. 3. ISBN 0-19-814047-9.
  3. Finley, Moses (2002). The World of Odysseus. New York: New York Review of Books. pp. 11–2. ISBN 978-1-59017-017-5.; Finley se syfers is ontleen aan die korpus van literêre papiri wat voor 1963 gepubliseer is.
  4. Herodotos 2.53.
  5. Graziosi, Barbara (2002). "Inventing Homer". Cambridge: 98–101. {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp)

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne