Jack the Ripper

Jack the Ripper
"With the Vigilance Committee in the East End: A Suspicious Character" uit The Illustrated London News, 13 Oktober 1888.
"With the Vigilance Committee in the East End: A Suspicious Character" uit The Illustrated London News, 13 Oktober 1888.
Land  Brittanje
Bynaam  Die Whitechapel-moordenaar
"Leather Apron"
Misdaad  Reeksmoordenaar
Misdaadbesonderhede
Plek Whitechapel, Londen
Datum(s)  1888–1891?
1888 – "kanonieke 5"
Slagoffers  Onbekend (5 "kanoniek")

Jack the Ripper is die bekendste naam van verskeie wat aan ’n ongeïdentifiseerde reeksmoordenaar gegee is wat in 1888 hoofsaaklik in die arm Whitechapel-gebied van Londen bedrywig was. Die naam het ontstaan nadat die polisie ’n brief van iemand gekry het waarin die skrywer homself so genoem en beweer het hy is die moordenaar. Daar word algemeen geglo die brief was ’n siek grap, of dat dit deur ’n joernalis geskryf kon gewees het om belangstelling in die storie te verhoog. In misdaadlêers en koerante is hy aanvanklik die Whitechapel-moordenaar of "Leather Apron" genoem.

Aanvalle wat met Jack the Ripper verbind word, was gewoonlik op vroulike prostitute wat in die arm dele van Londen gewerk het. Hul keel is afgesny voordat die onderlyf vermink is. Die feit dat inwendige organe uit minstens drie van die slagoffers verwyder is, het gelei tot voorstelle dat die moordenaar kennis van die menslike anatomie of chirurgie het. Vanweë die geweld van die moorde het die publiek dit al hoe meer verbind met een mens, wat hulle Jack the Ripper begin noem het.

Die groot dekking van die moorde in koerante het daartoe gelei dat hy ’n internasionale legende geword het. Hoewel 11 gewelddadige moorde tot in 1891 in Whitechapel gepleeg is, kon die polisie nie almal met mekaar verbind nie. Vyf slagoffers is tussen 31 Augustus en 9 November 1888 vermoor; hulle word die "kanonieke vyf" genoem en daar word geglo hulle moorde hou verband met mekaar. Hulle is: Mary Ann Nichols, Annie Chapman, Elizabeth Stride, Catherine Eddowes en Mary Jane Kelly.

Omdat die moorde nooit opgelos is nie, het die legendes oor Jack the Ripper ’n kombinasie geword van ware historiese navorsing, folklore en samesweringsteorieë. Daar is nou al meer as 100 teorieë oor die Ripper se identiteit en talle fiksiewerke oor die moorde.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne