Karl Lagerfeld

Karl Lagerfeld
Karl Lagerfeld in 2014
Gebore
Karl Otto Lagerfeld

(1933-09-10)10 September 1933
Sterf19 Februarie 2019 (op 85)
NasionaliteitVlag van Duitsland Duitsland
BeroepModeontwerper, fotograaf en kostuummaker
Bekend virModeontwerpe, fotokuns, meubels
OpvolgerVirginie Viard
Ouer(s)Otto Lagerfeld
Elisabeth Bahlmann
Webwerfkarl.com
Handtekening

Luafout in Module:Check_for_unknown_parameters op reël 93: attempt to call field '_warning' (a nil value)

Karl Lagerfeld in 2011 met 'n ikoniese Swartwoud-koekoekklok, ontwerp deur Stefan Strumbel

Karl Otto Lagerfeld (* 10 September 1933 in Hamburg; † 19 Februarie 2019 in Neuilly-sur-Seine) was 'n Duitse modeontwerper, fotograaf, kostuummaker (onder meer vir die Milaanse operahuis Scala en rolprente soos The Sun Also Rises, Babette’s Feast, Viva le Vie en Le Général de l’armée morte[1]) en 'n ikoon van moderne popkultuur wat as frankofiel vanaf die ouderdom van veertien in Parys gebly het. Hier het hy teen die middel van die 1950's sy loopbaan in die Franse modebedryf begin en is deur leidende ondernemings soos onder meer Balmain, Patou en Chloé aangestel. In 1965 het hy die posisie van damesmodeontwerper vir Fendi in Rome aanvaar wat hy tot en met sy afsterwe beklee het.[2]

Sy eie klere het hy in Paryse Dior-modewinkels gekoop. Ook het hy - wat in 2000 nog 102 kilogram geweeg en Yamamoto-XL-pakke gedra het - die strenge 3D-dieet onder toesig van sy lyfarts Jean-Claude Houdret gevolg om binne dertien maande 42 kilogram te verloor - en sodoende in die befaamde Franse modeontwerper Hedi Slimane se swart pakke te pas wat vir die mode-etiket Dior Homme ontwerp is.[3] Die Yamamoto-pakke is vervolgens in Lagerfeld se tuin begrawe om enige versoeking te voorkom.[4] En Hedi Slimane kon vervolgens self by Houdret se lys van welvarende klante gevoeg word.

Sedert 1974 het Lagerfeld – met kort onderbrekings – damesmode ontwerp wat onder sy eie naam bemark is. Die regte vir die mode-etikette Karl, Lagerfeld en Karl Lagerfeld, wat onder meer in Lagerfeld-modewinkels in groter metropole verkoop word, is in 2005 deur die Amerikaanse modeontwerper Tommy Hilfiger gekoop.[5]

In 1983 het Lagerfeld 'n kontrak as kreatiewe direkteur vir die Franse modeonderneming Chanel onderteken. Chanel, wat in besit van twee broers is (Alain en Gérard Wertheimer), het Lagerfeld lewenslank in dié pos geplaas. Die onderneming se merkwaardige herlewing gedurende die 1980's en sy groei tot 'n internasionale rolspeler in die kosmetiek- en modebedryf met 'n omset van VSA-$9,62 miljard en 'n bedryfsinkomste van $2,69 miljard in 2017 word grotendeels aan Lagerfeld toegeskryf wat jaarliks tot twintig modereekse ontwerp het. Ná Yves Saint Laurent se afsterwe in 2008 was Lagerfeld die onbetwiste Paryse - en internasionale - modetsaar. In sy latere jare het 'n reeks bybehore en t-hemde gevolg wat deur sy kat Choupette geïnspireer is.

Lagerfeld se kenmerke was sy gepoeierde wit Mozart-poniestert, stywe bordjies en 'n donker sonbril, dikwels ook swart leerhandskoene. 'n Tyd lank het hy tydens openbare optredes ook 'n handwaaier saamgeneem. Die Franse pers het na hom respekvol en as sinspeling op sy Duitse afkoms verwys as Le Kaiser de la mode, Kaiser Karl of Karl die Grote wat die modewêreld met 'n blitzkrieg verower het.[6] Vir Alain Wertheimer, eienaar van die modehuis Chanel, was Karl danksy sy kreatiewe genius, sy grootmoedigheid en sy buitengewone intuïsie sy tyd vooruit en het juis hierdeur bygedra tot Chanel se internasionale sukses.[7]

Hy was bewus van die grondbeginsels wat Coco Chanel, rewolusionêre stigteres van die modehuis, beliggaam het: onafhanklikheid, vryheid en moderniteit.[8] As grys eminensie van die modewêreld kon hy die bedryf se reëls verbreek. Hy was een van die eerste groot modeontwerpers wat die massamark getoets het - met die bekostigbare, maar (volgens die wens van die onderneming) beperkte modereeks Karl Lagerfeld for H&M vir die Sweedse fast fashion-winkelketting H&M in 2004. Hierdie modes was binne enkele dae uitverkoop.[9] Volgens persberigte was Lagerfeld ontevrede oor die insluiting van grootte XL by die reeks.[10]

Ook het hy die konsep van rondreisende voorseisoen-modeskoue ontwikkel - met vertonings in Versailles; West Lothian, Skotland; Dallas, Texas; Seoel; en Havana, Kuba.[11] Die laasgenoemde gebeurtenis was net so opspraakwekkend soos Chanel-modeskoue in die Paryse Grand Palais. Waarnemers het opgemerk dat Lagerfeld verwagtinge eintlik nog net sou kon oortref deur 'n ekspedisie na die ruimte. En inderdaad het Lagerfeld ter geleentheid van die Paryse Modeskou in 2017 'n vuurpyl met 'n hoogte van 37 meter gelanseer.[12] Die skou van 2018, waarvoor 'n kunsmatige strandlandskap met branders geskep is, sou sy laaste groot optrede as modeskepper wees.

Karl Lagerfeld se laaste ontwerpe vir Chanel is op 5 Maart 2019 in Parys vertoon, temidde van 'n coulisse met Alpynse boukuns.[13] Toekomstige Chanel-modereekse sal deur Lagerfeld se langjarige medewerker Virginie Viard ontwerp word.[14] Viard, wat deur Lagerfeld as sy "geheime wapen" en sy "belangrikste persoonlikheid" beskryf is, het sy modesketse in werkbare bloudrukke vir naaisters omgesit en ten nouste vertroud geraak met die ontwerper. Viard was ook betrokke by die ontwerpe vir die modetsaar se laaste modereeks. Vroeg in Mei 2019 het sy haar eerste reeks, Chanel Cruise 2020, met die leuse Destination Chanel bekend gestel - teen die agtergrond van 'n gestileerde Belle Époque-treinstasie wat in die Paryse Grand Palais ontstaan het.[15]

  1. artnet.de: Karl Lagerfeld. Besoek op 21 Februarie 2019
  2. "kultur-online.net: Karl Lagerfeld – Modemethode. Besoek op 7 Maart 2018". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Augustus 2018. Besoek op 7 Maart 2018.
  3. Die Welt, 5 Desember 2017: So hält Karl Lagerfeld sein Gewicht - seit Jahren. Besoek op 13 Maart 2019
  4. Süddeutsche Zeitung, 9 Desember 2008: Karl Lagerfeld. Besoek op 11 Maart 2019
  5. biography.com: Karl Lagerfeld. Besoek op 7 Maart 2018
  6. Le Figaro: Karl Lagerfeld est mort : la vie et les secrets du couturier emblématique de la mode française. Besoek op 21 Februarie 2019
  7. www.ndr.de, 19 Februarie 2019: "Seiner Zeit voraus": Trauer um Karl Lagerfeld. Besoek op 21 Februarie 2019
  8. vogue.com, 19 Februarie 2019: Legendary Designer Karl Lagerfeld Has Died. Besoek op 21 Februarie 2019
  9. GQ, 19 Februarie 2019: Nachruf auf Karl Lagerfeld - Die Ikone. Besoek op 21 Februarie 2019
  10. www.rollingstone.de, 19 Februarie 2019: Karl Lagerfeld im Porträt. Besoek op 27 Februarie 2019
  11. vogue.com, 19 Februarie 2019
  12. www.welt.de, 11 Maart 2017: Und bei Chanel hob wirklich die Rakete ab. Besoek op 21 Februarie 2019
  13. WWD.com, 23 Februarie 2019: Karl Lagerfeld Cremated in Nanterre. Besoek op 24 Februarie 2019
  14. focus.de, 20 Februarie 2019: Mode-Legende Karl Lagerfeld ist tot. Besoek op 20 Februarie 2019
  15. Mail Online, 3 Mei 2019: Chanel models storm the Cruise 2020 runway in romantic ruffles and flirty florals as new director Virginie Viard transforms the Parisian Grand Palais into a VERY chic train station for her first show since Karl Lagerfeld's death. Besoek op 5 Mei 2019

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne