Prignitz

'n Papawerveld naby Kuhbier, wes van Pritzwalk
Oggendmis in die biosfeerreservaat Rivierlandskap Elbe naby Bad Wilsnack
Die historiese bedevaartskerk "Wonderbloedkerk" in Bad Wilsnack dien sedert die Protestantse Hervorming as Evangelies-Lutherse parogiekerk

Prignitz, vroeër ook Priegnitz (ou spelwyse) of Vormark genoem, is 'n historiese landskap in die noordweste van die Duitse deelstaat Brandenburg. Klein dele van die gewes maak tans in administratiewe opsig deel uit van Mecklenburg-Voorpommere (naby Ludwigslust/Parchim) en Sakse-Anhalt (naby Havelberg), maar die oorgrote deel van Prignitz is in die gelyknamige Brandenburgse distrik en in die distrik Ostprignitz-Ruppin geleë.

Prignitz is die oudste landskap in die huidige deelstaat Brandenburg met 'n wisselvallige geskiedenis as grensstreek. Vanuit Prignitz is vanaf die die 10de eeu die Christelike sendingwerk vir die Slawiese bevolking van Brandenburg georganiseer. Twee eeue later het vanaf die 12de eeu die Duitse kolonisasie van gebiede in die ooste sy aanvang in Prignitz geneem. Die landskap se argitektoniese erfenis met kastele en herehuise, Baksteengotiese kerke en sogenaamde Rundlingsdörfer, dorpe wat kringvormig rondom 'n sentrale plein aanglê is en gewoonlik in die historiese grensstreke aangetref word waar Duits- en Slawiessprekendes in aantaking met mekaar gekom het, getuig van hierdie gebeure, net soos Middeleeuse nedersettings met nou straatjies en vakwerk-plaashuise op die platteland.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne