Retrograde en prograde beweging

’n Retrograde wentelbaan: Die satelliet (rooi) is in ’n wentelbaan met ’n teenoorgestelde rigting as die rotasie van sy primêre voorwerp (blou/swart)

’n Retrograde beweging is ’n beweging in die teenoorgestelde rigting as die beweging van ’n ander voorwerp. Dit is die teenoorgestelde van ’n prograde beweging, wat in dieselfde rigting is. Hierdie beweging kan die wentelbaan van een liggaam om ’n ander wees of die rotasie van ’n enkele liggaam om sy as. Met verwysing na ruimtestelsels, kan ’n retrograde beweging beteken ’n beweging wat in die teenoorgestelde rigting as die rotasie van die res van die stelsel is.

In die Sonnestelsel beweeg al die planete en die meeste ander voorwerpe wat om die Son wentel, in ’n prograde rigting (dus in die rigting van die Son se rotasie), behalwe baie komete. Die rotasie van die meeste planete is ook prograad, met die uitsondering van Venus en Uranus, wat ’n retrograde rotasie het. Die meeste natuurlike satelliete van planete draai om hul planete in ’n prograde rigting. (In die geval van Uranus se satelliete beteken dit hulle beweeg in dieselfde rigting as Uranus se rotasie en dus retrograad met betrekking tot die Son).

Daar is ’n paar natuurlike satelliete wat in ’n retrograde rigting om hul planete wentel, maar hulle is gewoonlik klein en ver van die planeet af. Die uitsondering is Neptunus se satelliet Triton, wat groot en naby is. Vermoedelik is dié retrograde satelliete, insluitende Triton, in ’n wentelbaan vasgevang nadat hulle op ’n ander plek gevorm het.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne