Sentour (kleinplaneet)

Die ligging van bekende voorwerpe in en buite die sonnestelsel. Die sentoure is die voorwerpe in oranje wat meestal binne die Kuiper-gordel (in groen) en buite die Jupiter-trojane (in pienk) lê.

Sentoure is onstabiele kleinplanete wat eienskappe van beide asteroïdes en komete toon. Hulle word genoem na die sentoure in die Griekse mitologie, wat eienskappe van beide mense en perde gehad het. Sentoure het veranderlike wentelbane wat dié van een of meer van die groot gasplanete gekruis het, en het dinamiese leeftye van ’n paar miljoen jaar.[1] Daar is sowat 44 000 sentoure in die sonnestelsel met ’n deursnee groter as 1 km.[1]

Die eerste sentour-agtige voorwerp wat ontdek is, was 944 Hidalgo in 1920. Hulle is egter nie as unieke voorwerpe beskou nie tot met die ontdekking van 2060 Chiron in 1977. Die grootste bekende sentour is 10199 Chariklo, wat in 1997 ontdek is. Dit het ’n deursnee van 260 km, so groot soos ’n asteroïde van gemiddelde grootte.

Tot met 2008 is drie sentoure ontdek met komas: 2060 Chiron, 60558 Echeclus en 166P/NEAT. Chiron en Echeclus word dus as beide asteroïdes en komete geklassifiseer. Ander sentoure soos 52872 Okyrhoe toon vermoedelik komeet-aktiwiteite. Enige sentour wat naby genoeg aan die Son aangetrek word, is vermoedelik ’n komeet.

  1. 1,0 1,1 Horner, J.; Evans, N.W.; Bailey, M. E. (2004). "Simulations of the Population of Centaurs I: The Bulk Statistics". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 354 (3): 798–810. arXiv:astro-ph/0407400. Bibcode:2004MNRAS.354..798H. doi:10.1111/j.1365-2966.2004.08240.x.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne