Tiglat-Pileser III

Tiglat-Pileser III
Koning van Assirië
Tiglat-Pileser III: stele van die mure van sy paleis (Britse Museum, Londen).
Dinastie Adasi
Bewind 745-727 v.C.
Volle naam 𒆪𒋾𒀀𒂍𒊹𒊏 (Akkadies,
Tukultī-apil-Ešarra)
Ander titels
  • Koning van Babilon
  • Koning van Sumer en Akkad
  • Koning van die Vier Hoeke van die Wêreld
  • Koning van die Heelal
Gesterf 727 v.C.
Voorganger Assur-nirari V
Opvolger Salmaneser V
Vader Assur-nirari V

Tiglat-Pileser III[nota 1] (uit Hebreeus: תִּגְלַת פִּלְאֶסֶר; Akkadies: 𒆪𒋾𒀀𒂍𒊹𒊏 Tukultī-apil-Ešarra, "my vertroue is in die seun van Ešarra") was in die 8ste eeu v.C. (745-727 v.C.) koning van die Nieu-Assiriese Ryk.[1] Hy was een van die prominentste en histories belangrikste Assiriese konings wat 'n tydperk van stagnasie omgekeer het, talle gevorderde burgerlike, militêre en politieke stelsels ingestel en die grondgebied onder Assiriese beheer meer as verdubbel het.

Vanweë die enorme uitbreiding en sentralisasie van die Assiriese gebied en die stigting van 'n vaste weermag, beskou sommige historici Tiglat-Pileser se bewind as die ware oorgang van Assirië in 'n ryk. Die hervormings en metodes van beheer wat hy bekend gestel het, het nie net die basis geskep vir beleide wat deur latere Assiriese konings gevolg is nie, maar ook deur latere ryke vir millenniums ná sy dood.

Die omstandighede waaronder Tiglat-Pileser koning geword het, is nie duidelik nie. Omdat antieke Assiriese bronne teenstrydige weergawes van sy afkoms gee en daar 'n opstand was om en by die tyd van sy troonbestyging, het baie historici tot die gevolgtrekking gekom dat hy 'n troonrower was wat die troon van sy voorganger, Assur-nirari V, afgeneem het. Dié was óf sy pa óf sy broer. Ander historici meen die bewyse kan ook vertolk word as dat hy die troon op 'n wettige wyse geërf het. Die debat duur voort.

Tiglat-Pileser III het vroeg in sy bewind die koninklike mag vergroot deur die invloed van prominente amptenare en generaals in te kort. Hy het ’n groot deel van die antieke Nabye Ooste onderwerp; in die suide sy mede-Mesopotamiërs in Babilonië en Galdea, asook verskeie volke van die Arabiese Skiereiland; in die suidweste Israel, Juda, Filistea, Samarra, Moab, Edom, die Suteërs en Nabatea; in die noorde Urartu, Armenië en Skitië in die Kaukasus, Krimmerië aan die Swartsee, en Nairi; in die noordweste ’n groot deel van oostelike en suidwestelike Klein-Asië, insluitende die Hetiete, Frigië en Karië; in die weste die Grieke van Siprus en Aram (die hedendaagse Sirië), en die Mediterreense stadstate Fenisië/Kanaän; in die ooste Persië, Medië, die Goeteërs, die Manneërs en Elam. Later tydens sy bewind is hy ook in Babilonië as koning gekroon.

Tiglat-Pileser III het opstande teen die Assiriese bewind ontmoedig deur middel van die gedwonge deportasie van duisende mense deur sy hele ryk. Hy was een van die suksesvolste militêre aanvoerders in die wêreldgeskiedenis – hy het die grootste deel van die wêreld verower wat aan die Assiriërs bekend was.


Verwysingfout: <ref> tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/> tag was found

  1. Tadmor 1994, p. 29.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne