Uys Krige

Uys Krige
Gebore
Mattheus Uys Krige

4 Februarie 1910
Bontebokskloof, Kaapprovinsie
Sterf10 Augustus 1987 (op 77)
Hermanus, Kaapprovinsie
NasionaliteitSuid-Afrika
BeroepSkrywer, digter, dramaturg

Mattheus Uys Krige (Bontebokskloof, Kaapprovinsie, 4 Februarie 1910Hermanus, Kaapprovinsie, 10 Augustus 1987) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer, digter, dramaturg, vertaler, rugbyspeler en oorlogskorrespondent.[1]

Hy het onderrig ontvang aan die Universiteit Stellenbosch[2] en daarna van 1931 tot 1935 in Frankryk en Spanje gaan woon, waar hy beide Frans en Spaans vlot leer praat het. Krige het ook rugby gespeel vir 'n rugbyklub in Toulon, in die Suide van Frankryk.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1935 het hy sy loopbaan as joernalis begin as verslaggewer vir die Rand Daily Mail. Hy was ook later letterkunderedakteur van die Verenigde Party se Kaapse middagblad, Die Suiderstem.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy 'n oorlogskorrespondent vir die Suid-Afrikaanse Weermag in Noord-Afrika. Hy is in 1941 gevangene geneem en na Italië gestuur waar hy twee jaar in 'n krygsgevangekamp deurgebring het. Hy het egter in September 1943 ontsnap en na Suid-Afrika teruggekeer in 1946.

As 'n skrywer en digter was Krige uiters veelsydig – sy werke sluit in romans, kortverhale, gedigte en toneelstukke in beide Afrikaans en Engels. Krige word ook gereken onder die sogenaamde "Dertigers", 'n term wat gebruik word om na skrywers uit die dertigerjare te verwys. Hy het die Penguin Book of South African Verse (1968) in medewerking met Jack Cope saamgestel.

Krige het vele werke deur William Shakespeare in Afrikaans vertaal, asook werke deur Federico Garcia Lorca, Pablo Neruda en Lope de Vega, uit die oorspronklike Spaans en werke deur Baudelaire, Villon en Paul Éluard uit die oorpronklik Frans.

Sy broer was die skilder en tekenaar François Krige. Hulle gesamentlike reise deur Spanje is vasgelê in Uys se boek Sol y Sombra, waarvoor François die illustrasies voorsien het.

Krige maak ook per geleentheid van die skuilnaam Arnoldus Retief gebruik..

  1. http://www.stellenboschwriters.com/krigeuys.html
  2. http://esat.sun.ac.za/index.php/Uys_Krige

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne