Vitamien D

Vitamien D2
Vitamien D2 se chemiese struktuur
Vitamien D3
Vitamien D se chemiese struktuur

Vitamien D is 'n groep van komplekse vetoplosbare vitamiene, met die volgende vorme:

  • Vitamien D1: 'n molekulêre samestelling van ergokalsiferol en lumisterol, 1:1
  • Vitamien D2: ergokalsiferol
  • Vitamien D3: cholekalsiferol
  • Vitamien D4: 22-dihidroërgokalsiferol
  • Vitamien D5: sitokalsiferol

Vitamien D is noodsaaklik vir verskeie funksies van die liggaam, bv. 'n gesonde beenstruktuur en om osteoporose te verhoed. Vitamien D bevorder die opname van kalsium en fosfor in die spysverteringskanaal en is behulpsaam met die handhawing van ʼn balans tussen die onttrekking en afsetting van die minerale wat in been voorkom. Die vitamien kom in verskillende natuurlike vorms voor, maar vitamien D-2 en vitamien D-3 is die belangrikste.

Vitamien D-2 (kalsiferol) word selde in die natuur aangetref, maar dit kan sinteties vervaardig word deur die ergosterol en sterol wat in giste en ander swamme aangetref word, met ultravioletlig te bestraal. In die meeste lande word melk en margarien met vitamien C-2 verryk. Dit het dieselfde uitwerking as vitamien D-3, wat in die natuur voorkom. Die menslike vel kan onder die invloed van ultraviolet lig (deel van sonlig) vitamien D-3 van die provitamien 7- dehidrocholesterol vervaardig.

'n Vitamien D-tekort veroorsaak ragitis by babas en klein kinders, terwyl osteomalasie (beenverswakking) by volwassenes voorkom. Die mens kan oor die algemeen voldoende vitamien D vir sy behoeftes vervaardig en aanvullende hoeveelhede is slegs nodig tydens swangerskap en periodes van vinnige groei of baie min sonlig.

Te veel vitamien D veroorsaak ʼn vergiftiging, wat hiperkalsemie genoem word. Dit veroorsaak dat kalk oor die hele liggaam afgeset word, terwyl te veel kalsium in die bloed op die duur nierstene tot gevolg kan hê.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne