Wachau

Kultuurlandskap Wachau*
Unesco-wêrelderfenisterrein

Die bouvalle van die kasteel Aggstein
Ligging van Wachau op 'n kaart (Oostenryk)
Wachau
Wachau
Ligging van Wachau in Oostenryk
Koördinate: 48°23′36″N 15°27′20″O / 48.39333°N 15.45556°O / 48.39333; 15.45556
Lande Vlag van Oostenryk Oostenryk
Tipe Kultureel
Kriteria ii, iv
Verwysings 970
Streek Europa
Inskripsiegeskiedenis
Inskripsie 2000  (24ste Sessie)
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn.
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.
Dürnstein
Weißenkirchen temidde van die kenmerkende terraslandskap. Hier word al 1 500 jaar lank wyn verbou
Die uitkyktoring Donauwarte Krems-Egelsee naby Krems bied 'n panoramiese uitsig oor die Donauvallei naby Krems in die uiterste ooste van die Wachau
Skilders en skrywers het die "silwer band van die Donau" in hul werke beskryf. Veerbote is 'n belangrike vervoermiddel vir inheemses sowel as toeriste
Wesaansig van die klooster Stift Melk wat reeds meer as 900 jaar lank deur Benediktyne-monnike bewoon word. Hulle is gelyktydig as onderwysers werksaam - 'n gimnasium (hoërskool), wat sy oorsprong in 'n kloosterskool het wat reeds in 1160 gestig is, maak deel uit van die kloosterkompleks
Die Venus van Willendorf, wat in 1908 ontdek is, is 11 sentimeter hoog - en tussen 25 000 en 30 000 jaar oud. Argeoloë en historici voer 'n lewendige debat oor die kalksteen-figuurtjie se simboliek - vrugbaarheidsgodin of eerder 'n standbeeldjie wat materiële oorvloed versinnebeeld?
Appelkoosbloeisels naby Dürnstein in April. Appelkose, oorspronklik inheems aan China, is deur Grieke in die Middellandse Seegebied ingevoer en 2 000 jaar gelede deur Romeinse setlaars na die Donaugebied geneem. Van die plaaslike kultivar, die Klosterneuburger Marille, word jaarliks sowat een miljoen kilogram geoes. As Wachauer Marille is dit een van min Oostenrykse produkte wat as handelsmerk in die Europese Unie beskerm word. Die appelkose-bloeityd kan jaarliks op die internet dopgehou word[1]
Wingerdterrasse in Spitz

Die Wachau (die klemtoon val op die laaste sillabe: „Wacháu“) is 'n landskap in die Oostenrykse deelstaat Neder-Oostenryk, sowat 80 kilometer wes van die hoofstad Wene. Dit bestaan uit die Donauvallei tussen Melk en Krems an der Donau en strek oor 'n afstand van 35 km. Die "Kultuurlandskap Wachau" met altesaam vyftien nedersettings is - saam met die barok-kloosters Melk en Göttweig en die historiese middestad van Krems- deur Unesco in 2000 as wêrelderfenisgebied gelys.[2] Histories is die Wachau in die grensland tussen twee Neder-Oostenrykse landskappe geleë. So word die suidweste van die Wachau as deel van die Mostviertel beskou, terwyl die noordooste by die Waldviertel gereken word, 'n streek in die noordweste van Neder-Oostenryk.

Die Wachau word gekenmerk deur die kronkelende rivierloop, met steil rotswande aan weerskante van die Donau wat op plekke tot 700 meter diep in die rotse ingesny het, wingerdterrasse, uitgestrekte vrugteborde (veral met Marillen, soos appelkose in Oostenryk genoem word - daar is sowat 100 000 appelkoosbome), indrukwekkende sakrale en wêreldlike boukuns met kloosters, kastele en ruïnes.

Die landskap se lang geskiedenis is nou verweef met dié van Oostenryk - en strek nog verder terug. Mense het reeds sowat 30 000 jaar gelede aangetrokke gevoel tot die vrugbare Donaulandskap met sy gematigde klimaat. In die noorde beskerm die Waldviertel met sy hoër geleë terrein die Wachau teen koue lugmassa's, terwyl winde langs die Donau wolke verdryf en vir baie sonskynure sorg. Sonstrale word van die Donauwater af weerkaats teen die hellings met wingerdterrasse.[3]

  1. Donau.com: Marillenblüte in der Wachau. Besoek op 17 Mei 2020
  2. Österreichische UNESCO-Kommission | Austrian Commission for UNESCO: Wachau - Flusslandschaft zwischen Klöstern, Burgen und Städten. Besoek op 17 Mei 2020
  3. Barbara Reiter • Michael Wistuba: Wachau • Waldviertel • Weinviertel. Vierde hersiene en uitgebreide uitgawe. Erlangen: Michael Müller Verlag 2016, bl. 17

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne