Kamera

’n Enkellensreflekskamera.

’n Kamera is ’n optiese instrument wat beelde registreer wat in die kamera gestoor of na ’n ander plek oorgedra kan word, of albei. Dit kan stilfoto's wees of bewegende beelde soos video's of rolprente. Die term "kamera" kom van die woorde camera obscura (Latyn vir "donkerkamer"), ’n vroeë metode om beelde te projekteer. Die moderne kamera het uit die camera obscura ontwikkel. Dit werk baie soos die menslike oog.

Nadat die camera obscura eeue lank gebruik is om kunstenaars te help teken en skilder asook om nie-permanente foto's te neem, is die eerste permanente foto in 1826 deur die Franse uitvinder Joseph Nicéphore Niépce geneem met ’n houtbokskamera. Hy was die eerste persoon wat daarin geslaag het om beelde te fikseer en so permanent te maak.

Die eerste kamera wat vir kommersiële gebruik vervaardig is, was ’n daguerreotipe-kamera, wat ontwikkel is danksy ’n proses wat deur die Fransman Louis Daguerre uitgevind is. Sedertdien het die tegnologie vir kameras en lense aansienlik verbeter.

Verskeie verstellings is met die meeste moderne kameras moontlik, waarmee die fokus, beligtingstyd en grootte van die lensopening gestel kan word. Verskillende soorte kameras met ’n verskeidenheid filmformate is verkrygbaar, van grootformaat- tot kompakte kameras. Met die ontwikkeling van digitale kameras en slimfone het die gewildheid van kameras wat film gebruik, grootliks afgeneem.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne