Periodieke tabel

Dmitri Mendelejef, die vader van die moderne periodieke tabel. Portret deur Ilja Repin.
Mendelejef se periodieke tabel uit sy boek.

Die periodieke tabel is 'n voorstelling van die bekende chemiese elemente, gerangskik volgens hul atoomgetal, elektronkonfigurasie en chemiese eienskappe. Elemente word gerangskik volgens toenemende atoomgetal (die getal protone). Die standaardvorm van die tabel bestaan uit ’n rooster van 18 x 7 blokkies, wat die hoofdeel vorm, plus ’n kleiner deel van twee rye onderaan.

Die tabel kan ook verdeel word in vier reghoekige blokke: die s-blok links, die p-blok regs, die d-blok in die middel en die f-blok daaronder. Die rye van die tabel word periodes genoem en die kolomme van die s-, d- en p-blok groepe; sommige van hulle het name soos halogene of edelgasse. Aangesien die periodieke tabel chemiese tendense behels, kan dit gebruik word om die verhouding tussen eienskappe van die elemente af te lei en om die eienskappe van nuwe, nog onontdekte elemente of sinteties vervaardigde elemente te voorspel.

Hoewel periodieke tabelle vantevore bestaan het, word Dmitri Mendelejef oor die algemeen beskou as die vader van die huidige tabel, wat hy in 1869 gepubliseer het. Dit is die eerste een wat algemeen aanvaar is. Hy het die tabel ontwikkel om tendense in die eienskappe van die destyds bekende elemente te illustreer. Hy het ook van die eienskappe van toe nog onbekende elemente voorspel na aanleiding van leë ruimtes in die tabel. Die meeste van sy voorspellings het korrek blyk te wees toe dié elemente later ontdek is. Mendelejef se periodieke tabel is sedertdien uitgebrei en verfyn met die ontdekking of sintetiese vervaardiging van nog nuwe elemente en die ontwikkeling van nuwe teoretiese modelle om chemiese gedrag te verduidelik.

Alle elemente van 1 (waterstof) tot 118 (oganesson) is al ontdek of sinteties vervaardig. Die elemente van 1 tot 98 (kalifornium) bestaan natuurlik, hoewel sommige net in klein hoeveelhede voorkom en aanvanklik ontdek is toe hulle sinteties vervaardig is. Die elemente ná 98 is sinteties vervaardig in laboratoriums. Die vervaardiging van elemente ná oganesson word beplan en voortdurende debatte word gevoer oor hoe die periodieke tabel verander sal moet word as enige sulke elemente bykom.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne