Amsterdam

Hierdie artikel handel oor die hoofstad van Nederland. Vir die artikel oor die gelyknamige Suid-Afrikaanse dorp, sien Amsterdam, Mpumalanga.
Amsterdam
Munisipaliteit (gemeente)
Amsterdamse besienswaardighede
Amsterdamse besienswaardighede
Vlag van Amsterdam
Vlag
Amptelike logo van Amsterdam
Wapen
Byname: 
"Mokum", "Venesië van die noorde"
Leuse(s): 
Heldhaftig, Vastberaden, Barmhartig
(Nederlands vir: "Heldhaftig, Vasberade, Barmhartig")
Ligging van Amsterdam in Noord-Holland en Nederland
Ligging van Amsterdam in Noord-Holland en Nederland
Koördinate: 52°22′N 4°54′O / 52.367°N 4.900°O / 52.367; 4.900Koördinate: 52°22′N 4°54′O / 52.367°N 4.900°O / 52.367; 4.900
LandVlag van Nederland Nederland
Provinsie Noord-Holland
Eerste verwysing (Amestelledamme)27 Oktober 1275
Stadsregteca. 1342
Regering
 • TipeMunisipale raad
 • BurgemeesterFemke Halsema (GroenLinks)
Oppervlak
 • Munisipaliteit (gemeente)219,32 km2 (84,68 vk. myl)
 • Land165,76 km2 (64,00 vk. myl)
 • Water53,56 km2 (20,68 vk. myl)
 • Randstad3 043 km2 (1 175 vk. myl)
Hoogte–2 m (–7 ft)
Bevolking
 • Munisipaliteit (gemeente)872 680
 • Digtheid5 206/km2 (13 480/vk. myl)
 • Stedelik
1 380 872
 • Metro
2 431 000
 • Randstad
8 116 000
 munisipaliteit en Randstad, 2019; stedelike gebied, 2018; metropolitaanse gebied, 2014
TydsoneUTC+01:00 (MET)
 • SomertydUTC+02:00 (MEST)
Poskode
1000-1109
Skakelkodes020
Webwerfamsterdam.nl

Amsterdam (Nederlands: [ɑmstərˈdɑm], ) is die titulêre hoofstad en volgens bevolking die grootste stad van die Koninkryk der Nederlande. Amsterdam, in die plaaslike Amsterdamse dialek ook Mokum (afgelei uit Jiddisj vir "plek" of "stad"; Hebreeus: מָקוֹם, Makom[10]) genoem, is in die westelike provinsie Noord-Holland aan die IJ- en die Amstel-riviere geleë. Die munisipaliteit Amsterdam het 'n bevolking van 918 000 (Januarie 2023, CBS) en Groot-Amsterdam het in 2023 'n bevolking van 1 456 000 gehad.[11] Die aantal verskillende nasionaliteite in die munisipaliteit is van die hoogste in die wêreld.[12][13] Alhoewel die regeringsetel en die Koninklike woning in Den Haag, sowat 60 km verder wes geleë is, is Amsterdam volgens die Nederlandse grondwet van 1983 die amptelike hoofstad van Nederland.[14]

Nasa-satellietbeeld van Amsterdam
'n Lugbeeld van Amsterdam met die bekende gragte

Amsterdam het sy naam te danke aan 'n dam wat in die 13de eeu in die Amstel opgerig is, en sy oorsprong lê in 'n 12de-eeuse klein vissersdorpie. Die plek het kort na 1300 stadsregte ontvang, in 1345 as gevolg van die Mirakel van Amsterdam 'n pelgrimsoord geword, tydens die Goue Eeu tot een van die belangrikste hawe- en handelstede ter wêreld gegroei en 'n leidende sentrum van handel en finansies geword.[15] 'n Toestroming aan buitelanders uit veral die Suidelike Nederland, Duitsland en die Skandinawiese lande het vanaf die einde van die 16de eeu tot staduitbreidinge gelei, waaronder die laaste gragte van die vesting wat nou as die gragtegordel bekend is. Gedurende die 19de en 20ste eeue het die stad uitgebrei en baie nuwe buurte en voorstede is beplan en gebou. Beide die 17de-eeuse Amsterdamse gragtegordel[16] en die 19de-eeuse Stelling van Amsterdam[17] is deur Unesco as wêrelderfenisgebiede erken. Weens sy gragte word Amsterdam ook Venesië van die noorde genoem.[18][19] Sloten, wat in 1921 by die munisipaliteit Amsterdam ingelyf is, is die oudste deel van die stad, en dateer uit die 9de eeu.

Amsterdam is die ekonomiese sentrum van Nederland en een van die finansiële sentrums in Europa, die stad word deur die studiegroep Globalization and World Cities as 'n alfa-wêreldstad beskou. Daarbenewens is die stad die kulturele sentrum van Nederland. Baie belangrike Nederlandse instellings is hier gesetel, insluitende Philips, AkzoNobel, TomTom en ING.[20] Van die wêreld se grootste maatskappye is in Amsterdam gesetel of het hul Europese hoofkwartier in Amsterdam, insluitende leidende tegnologiemaatskappye soos Uber, Netflix en Tesla.[21] In 2012 is Amsterdam deur die Economist Intelligence Unit (EIU) as die naasbeste lewensbare stad benoem[22] en volgens Mercer die 12de wêreldwyd wat lewenskwaliteit rakende omgewing en infrastruktuur betref.[23] Die stad is wêreldwyd op die vierde plek as top-tegnologiese spilpunt in die Savills Tech Cities 2019-verslag (en tweede in Europa),[24] en derde volgens innovasie in die Australiese innovasie-agentskap 2thinknow se Innovasiestede-indeks 2009.[25] Die Amsterdam-hawe is die vyfde grootste hawe in Europa.[26] Lughawe Schiphol is die besigste lughawe in Nederland en – net na Londen (Lughawe Londen-Heathrow) en Parys (Lughawe Parys-Charles de Gaulle) – die derde besigste in Europa. Die Amsterdamse Effektebeurs is die oudste effektebeurs ter wêreld.

Besienswaardighede en aantreklikhede in Amsterdam sluit in sy gragte, Rijksmuseum, Stedelike Museum, Van Gogh Museum en Skeepvaartmuseum, Anne Frank-huis, Suid-Afrika Huis, Concertgebouw, Hermitage Amsterdam, Amsterdamse Museum, Musiekgebou aan 't IJ en EYE Filmmuseum, dieretuin Artis, Wallen, Heineken Experience, Koninklike Paleis, Natura Artis Magistra, Hortus Botanicus Amsterdam, NEMO, die rooiligdistrik en die koffiewinkels. Van die bekende Amsterdamse inwoners sluit in die dagboekskrywer Anne Frank, die skilders Rembrandt en Van Gogh, en die filosoof Baruch Spinoza. Die stad beskik oor twee universiteite (Universiteit van Amsterdam en Vrije Universiteit Amsterdam) en 'n aantal kolleges. Daarbenewens staan Amsterdam bekend vir sy gragte, sy verdraagsaamheid teenoor ander kulture en sy liberale atmosfeer. Die stad se eeue-oue multikulturele samelewing geniet wêreldwye aansien. Dit is ook een van die wêreld se meeste multikulturele stede, aangesien meer as 177 verskillende nasionaliteite in Amsterdam woon.[27] Amsterdam lok jaarliks sowat 5 miljoen internasionale toeriste.[28] Die stad is ook bekend vir sy naglewe en feesaktiwiteite; van sy nagklubs (bv. Melkweg, Paradiso) is onder die wêreld se bekendstes.

  1. (en) "Portfolios: Mayor & Alderpersons". Munisipaliteit Amsterdam. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Februarie 2014. Besoek op 18 Februarie 2014.
  2. 2,0 2,1 (nl) "Kerncijfers wijken en buurten". CBS Statline. CBS. 2 Julie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 April 1999. Besoek op 12 Maart 2014.
  3. (nl) Anita Bouman–Eijs; Thijmen van Bree; Wouter Jonkhoff; Olaf Koops; Walter Manshanden; Elmer Rietveld (17 Desember 2012). "De Top 20 van Europese grootstedelijke regio's 1995–2011; Randstad Holland in internationaal perspectief" (PDF). Delft: TNO. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 3 Maart 2014. Besoek op 25 Julie 2013.
  4. (nl) "Postcodetool for 1012JS (Dam Square)". Actueel Hoogtebestand Nederland. Het Waterschapshuis. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2013. Besoek op 18 Februarie 2014.
  5. (nl) "Bevolking op 1 januari en gemiddeld; geslacht, leeftijd en regio". CBS StatLine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2020. Besoek op 1 Maart 2019.
  6. (nl) "Bevolkingsontwikkeling; regio per maand". CBS Statline. CBS. 1 Januarie 2019. Besoek op 1 Januarie 2019.
  7. (nl) "Bevolkingsontwikkeling; regio per maand". CBS Statline. CBS. 26 Junie 2014. Besoek op 24 Julie 2014.
  8. (nl) "CBS Amsterdam Bevolkingsontwikkeling; regio per maand".
  9. (nl) "Economische Verkenningen Metropool Regio Amsterdam" (PDF).
  10. (nl) Woordhoek: Mokum, nrc.nl
  11. (nl) Regionale kerncijfers Nederland, StatLine
  12. (nl) "Amsterdam stad met meeste nationaliteiten (177) ter wereld". Trouw. 22 Augustus 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 September 2018.
  13. (nl) "Feiten & cijfers over Amsterdam". iamsterdam.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Julie 2016. Besoek op 2 April 2020.
  14. (nl) "Grondwetpad – 1. Hofplaats". Huis voor democratie en rechtsstaat. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Mei 2019. Besoek op 5 April 2011.
  15. (en) Youssef Cassis. Capitals of Capital – A History of International Financial Centres – 1780–2005. Cambridge.org. ISBN 978-0-521-84535-9.
  16. (en) "Seventeenth-Century Canal Ring Area of Amsterdam inside the Singelgracht". Unesco. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Desember 2019. Besoek op 11 Oktober 2020.
  17. (en) "Defence Line of Amsterdam". Unesco. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Junie 2020. Besoek op 11 Oktober 2020.
  18. (en) "Amsterdamhotspots.nl". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2017. Besoek op 19 April 2007.
  19. (en) "World Executive City Guides – Amsterdam". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2009. Besoek op 19 April 2007.
  20. (en) "Forbes Global 2000 Largest Companies – Dutch rankings". Forbes.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Mei 2020.
  21. (en) "The Next Global Tech Hotspot? Amsterdam Stakes Its Claim". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 April 2020.
  22. (en) "Best cities ranking and report" (PDF).
  23. (en) "Best cities in the world (Mercer)". City Mayors. 26 Mei 2010. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2020. Besoek op 10 Oktober 2010.
  24. (en) "Tech Cities in Motion – 2019". Savills. 4 Februarie 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Julie 2019.
  25. (en) "2thinknow Innovation Cities Global 256 Index – worldwide innovation city rankings". Innovation-cities.com. 30 Julie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 September 2010. Besoek op 10 Oktober 2010.
  26. (en) Rotterdamse Hawe-owerheid (Mei 2016). "Port Statistics 2015". Persberig. 6. Archived from the original on 9 Februarie 2017. https://web.archive.org/web/20170209204616/https://www.portofrotterdam.com/sites/default/files/port-statistics-2015.pdf. Besoek op 9 Februarie 2017. 
  27. (en) "Amsterdam world's most multicultural city". 26 Februarie 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2020.
  28. (nl) "Amsterdam verwelkomde in 2014 ruim 5 miljoen buitenlandse toeristen – Amsterdam – PAROOL". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 November 2018.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne