Argeologie

'n Roomse teater in Alexandria, Egipte.

Argeologie of oudheidkunde is die studie van menslike kulture deur die herwinning, dokumentering en analise van materiële oorblyfsels, insluitende argitektuur, kunsprodukte, oorblyfsels van lewende organismes insluitend menslike oorblyfsels en die studie van die landskap waarin die mense gewoon het. Die doel van argeologie is om lig te werp op die langtermyn voorgeskiedenis, geskiedenis, gedragspatrone en kulturele ewolusie van die mens. Dit is die enigste vakgebied wat die metodiek beskryf vir die versameling en interpretasie van inligting oor die voorgeskiedenis van die mens en kan ook 'n belangrike bydrae lewer tot ons verstaan van opgetekende gemeenskappe. Ander vertakkinge van antropologie vul die bevindings van argeologie aan, veral kulturele antropologie (wat die gedragspatrone, simboliek en materiële aspekte van 'n kultuur bestudeer) en fisiese antropologie (wat die studie van die menslike ewolusie en beenkunde behels). Ander vakrigtings vul argeologie ook aan, soos onder andere paleontologie (die studie van oerlewe) wat die studie van oerdiere (oerdierkunde) en oerplante (oerplantkunde) insluit, verder ook aardrykskunde, geologie, geskiedenis en kunsgeskiedenis.

Argeologie is 'n benadering tot die verstaan van verlore kulture en die onopvallende aspekte van die mens se geskiedenis, sonder 'n afsnydatum: in Engeland het argeoloë die uitleg van lank verlore middel-eeuse nedersettings blootgelê wat ontruim is na die krisisse van die 14de eeu. In New York Stad het argeoloë die 18de eeuse oorblyfsels gevind van die Swart begraafplaas daar.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne