Baltiese lande

Baltiese lande
Balti riigid, Baltimaad (Estnies)
Baltijas valstis (Lets)
Baltijos valstybės (Litaus)
Amptelike tale Esties in Estland
Lets in Letland
Litaus in Litaue
Hoofstede Tallinn (Estland)
Riga (Letland)
Vilnius (Litaue)

Die term Baltiese lande verwys na 'n geografiese en historiese kusgebied in Noordoos-Europa wat 'n landstrook met 'n wydte van tussen 200 en 300 kilometer beslaan en tussen die vroeëre Duitse provinsie Oos-Pruise in die weste en die Peipusmeer in die ooste geleë is. Die gebied is na die Baltiese volke vernoem wat 'n selfstandige taalfamilie binne die Indo-Europese groep van tale vorm en word hoofsaaklik deur Litauers, Este en Lette bewoon.

Die gebied bestaan vandag uit die drie onafhanklike Baltiese state Litaue, Letland en Estland wat tussen 1940 en 1991 as Sosialistiese Sowjetrepublieke nog deel uitgemaak het van die Sowjetunie. Alhoewel die Estiese volk net soos die Lyflanders (of Lywe) in die noorde van Letland as Finno-Oegriërs in taalkundige opsig nie by die Baltiese taalfamilie gereken kan word nie, word Estland gewoonlik steeds as 'n Baltiese land beskou.

Die gebied is – behalwe vir Litaue – in die Middeleeue deur die Duitse Ridderorde gekoloniseer en is oorwegend Evangelies-Luthers. Dit het tussen 1721 en 1918 deel uitgemaak van die Tsaristiese Rusland. Litaue was oor 'n lang tydperk met Pole in een ryk verenig en het tydens die Reformasie net soos sy suidelike buurland oorwegend Rooms-Katoliek gebly. So het Estland en Letland ná die Eerste Wêreldoorlog uit Protestants-Duitse provinsies van die voormalige Duitse Ordensstaat ontstaan, terwyl Litaue met sy Pools-Katolieke tradisies reeds in die Middeleeue as selfstandige staat bestaan het.

In die tydperk tussen die wêreldoorloë het Litaue, Letland en Estland onafhanklike republieke gevorm. In 1939 het die Duitsland van Hitler en die Rusland van Stalin die Molotof-Ribbentrop-verdrag gesluit wat die drie republieke uitgelewer het aan 'n Russiese besetting. Politieke marionette van Sowjet-Rusland het die aansluiting van al drie Baltiese lande as outonome Sosialistiese Sowjetrepublieke en 'n vinnige sowjetisering van die Baltiese ekonomieë beheer.

Ná die Duitse aanval op die Sowjetunie is die Baltiese lande deur die Duitse Weermag beset en het baie Balte saamgewerk met die Duitsers. Ná die Sowjet-Russiese oorwinning het honderdduisende inwoners na Westerse lande gevlug. In die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog het talle Russe hulle in die Baltiese Sowjetrepublieke gevestig. Terwyl die Litause Politburo reeds in die vyftigerjare 'n beperking op die immigrasie van nie-Litause burgers geplaas het, was Estland en Letland aan 'n relatief sterk russifisering blootgestel.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne