Eneas

Eneas en sy pa vlug uit die brandende Troje, deur Simon Vouet, c. 1635.

In die Grieks-Romeinse mitologie was Eneas of Aeneas (Grieks: Αἰνείας, moontlik afgelei van αἰνή, "geloof") ’n Trojaanse held, die seun van prins Anchises en die godin Afrodite/Venus. Sy pa was die neef van koning Priamos van Troje (hulle was albei kleinseuns van Ilus, die stigter van Troje).

Eneas was ’n karakter in die Griekse mitologie en word onder meer in Homeros se Ilias genoem. Hy word ook uitgebreid in die Romeinse mitologie behandel, veral in Vergilius se Eneïde, waar hy ’n voorouer van die stigters van Rome, Romulus en Remus, is. Hy was die eerste ware held van Rome.

Vergilius (70-19 v.C.), een van die beroemdste Romeinse digters, het in die tyd van keiser Augustus, dus in die bloeityd van die Romeinse Ryk, geleef. Augustus het daarna gestreef dat sy onderdane trots moes wees op hul roemryke verlede, en daarom het hy Vergilius aangemoedig om 'n epos (heldedig) oor die ontstaan van Rome te skryf.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne