Jaar

'n Analemma illustreer die veranderende posisie van die Son in die loop van ’n jaar, soos gesien op ’n vaste tyd van die dag van die Aarde af.

’n Jaar is die relatiewe eenheid van tyd wat die tydperk beskryf waarin ’n planeet om sy ster wentel. In algemene taalgebruik is dit die tyd waarin die Aarde een maal om die Son wentel.

Vanweë die Aarde se ashelling kom vier seisoene in ’n jaar voor, en dit word gekenmerk deur ’n verandering in die weer, in die ure daglig en in die plantegroei en vrugbaarheid van die grond. In gematigde en subarktiese streke word vier seisoene gewoonlik erken: lente, somer, herfs en winter. In tropiese en subtropiese streke is daar nie gedefinieerde seisoene nie; in die trope kan wel tussen ’n nat en droë seisoen onderskei word.

’n Kalenderjaar is min of meer die getal dae wat die Aarde se wentelperiode duur, soos aangedui op ’n gegewe kalender. Volgens die Gregoriaanse, of moderne, kalender is ’n jaar 365 dae lank. Elke vier jaar word ’n dag bygetel om op te maak vir die feit dat die Aarde se wentelbaan om die Son nie in volledige dae geskied nie. Só ’n jaar word ’n skrikkeljaar genoem. Dieselfde gebeur met die Juliaanse kalender. Volgens eersgenoemde kalender is die lengte van ’n kalenderjaar (of gemiddelde jaar) oor die hele lengte van die skrikkelsiklus van 400 jaar altesaam 365,2425 dae.

Die ISO-standaard ISO 80000-3, bylae C, gebruik die simbool a (vir die Latynse annus) vir ’n jaar van óf 365 óf 366 dae. In Afrikaans word die afkorting j. meestal gebruik.

In sterrekunde is ’n Juliaanse astronomiese jaar ’n tydseenheid van 365,25 dae van presies 86 400 sekondes (SI-eenheid) elk, en dus presies 31 557 600 sekondes.[1]

Die woord "jaar" word ook gebruik vir tydperke wat losweg met ’n jaar of astronomiese jaar verbind word, maar nie identies daaraan is nie, soos die seisoenale jaar, boekjaar, akademiese jaar, ens. Die term word ook gebruik vir die wenteltydperk van enige planeet; ’n Mars- en Venusjaar is byvoorbeeld die tyd waarin dié planete ’n hele wentelbaan voltooi. Dit kan ook in ’n vae sin gebruik word vir ’n lang tydperk, soos mitologie, poësie of algemene spreektaal (byvoorbeeld: "Tot siens. Moenie weer 'n jaar wegbly nie!")

  1. "SI units". IAU. Besoek op 18 Februarie 2010. (Sien Tabel 5 en Afdeling 5.15.) Herdruk van: Wilkins, George A. (1989). "The IAU Style Manual" (PDF). IAU Transactions. XXB.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne