Johannesburg

Johannesburg

eGoli (xh)
iGoli (zu)
Stad
Vlag van Johannesburg
Vlag
Wapen van Johannesburg
Wapen
Byname: 
Jo'burg, Jozi, Joni
"Goudstad"; Egoli ("Plek van Goud"); Gauteng ("Plek van Goud"); Maboneng ("Stad van Lig")
Leuse(s): 
Unity in development[1] (Engels vir: "Eenheid in ontwikkeling")
Johannesburg is in Gauteng
Johannesburg
Johannesburg
 Johannesburg se ligging in Gauteng
Koördinate: 26°12′16″S 28°2′44″O / 26.20444°S 28.04556°O / -26.20444; 28.04556Koördinate: 26°12′16″S 28°2′44″O / 26.20444°S 28.04556°O / -26.20444; 28.04556
LandVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
ProvinsieGauteng
MunisipaliteitStad Johannesburg
Stigting1886,[2] stadstatus in 1928
Regering
 • BurgemeesterKabelo Gwamanda (Al Jama-ah)
Oppervlak
 • Stad334,81 km2 (129,27 vk. myl)
 • Metro
1 644,96 km2 (635,12 vk. myl)
Hoogte
1 753 m (5 751 ft)
Bevolking
 (2011)[3]
 • Stad957 441
 • Digtheid2 860/km2 (7 400/vk. myl)
 • Metro
4 434 827
 • Metrodigtheid2 700/km2 (7 000/vk. myl)
Rasverdeling (2011)
 • Wit mense13,9%
 • Indiërs/Asiërs6,7%
 • Bruin mense13,9%
 • Swart mense64,2%
 • Ander1,3%
Taal (2011)
 • Engels 31,1%
 • Zoeloe 19,6%
 • Afrikaans 12,1%
 • Xhosa 5,2%
 • Ander 31,9%
Poskode (strate)
2001
Poskode (posbusse)
2000
Skakelkode011
WebwerfJohannesburg-munisipaliteit

Johannesburg (Xhosa: eGoli, Zoeloe: iGoli, letterlik: "Plek van Goud") is die vernaamste sake- en bevolkingsentrum van Suid-Afrika met 'n oppervlakte van 1 645 vierkante kilometer en 'n bevolking van 4 434 827 in die metropolitaanse gebied volgens die sensus van 2011. Die huidige Stad Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit is 'n polisentriese metropool wat sowat vyfhonderd voorstede en dorpsgebiede insluit – naas die vroeëre stadsgebied ook voorheen onafhanklike munisipaliteite soos Midrand, Sandton en Randburg. Soweto is tans die grootste voorstad en ook die mees uitgestrekte historiese swart woonbuurt.

'n Donderstorm bars op 'n warm somerdag uit oor die Goudstad. Ses miljoen bome maak van Johannesburg buite die middestad 'n groen metropool
Die middestad van Johannesburg, soos gesien vanaf die Carlton-sentrum. As gevolg van die "Wit vlug", die verskuiwing van "blanke" besighede na die noordelike voorstede, het die Goudstad se sakekern reeds vanaf die 1980's 'n ingrypende transformasie ondergaan
Die luukse woonsteltoring Michelangelo in die noordelike voorstad Sandton

Johannesburg is nie een van Suid-Afrika se drie hoofstede nie (net Pretoria, Kaapstad en Bloemfontein het besondere status as respektiewelik die regeringshoofstad, parlementsetel en geregtelike hoofstad), maar dit vervul nogtans 'n belangrike administratiewe en geregtelike funksie as die hoofstad van die Gautengprovinsie en setel van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika.

Johannesburg is ook die sentrum van 'n verstedelikte gebied met meer as 8 miljoen inwoners wat van Pretoria in die noorde tot by Vereeniging in die suide strek. Die stad is die derde grootste in Afrika na Kaïro en Lagos, en die enigste in Afrika wat as 'n wêreldstad of global city beskou word,[4] 'n ekonomiese masjienkamer wat die hele Suider-Afrika met die wêreldekonomie verbind – onder meer danksy die plaaslike hoofkantore van mynboureuse en die Johannesburgse Effektebeurs (JEB of JSE) wat op wêreldvlak mededingend is.[5] Met SABMiller en Anglo-American het daarnaas twee multinasionale ondernemings hul oorsprong in die Goudstad.

Johannesburg is net een van ongetelde delwerstede wat êrens op aarde op 'n spesifieke oomblik in die geskiedenis byna oornag ontstaan het. Maar terwyl die meeste van hulle ná 'n relatief kort tydperk as verlate spookdorpe geëindig het sodra hul goudvoorrade uitgeput was, is Johannesburg as Suid-Afrika se laat-Victoriaanse kits- en wonderstad op 'n oorspronklik byna verlate en windverwaaide plato van die Transvaalse Hoëveld tydens die grootste goudstormloop ooit gestig om te bly en 'n meteoriese ekonomiese opgang te beleef nadat Europa se leidende bankhuise die diepvlakmynontwikkeling van die Randse goudmyne begin finansier het.

Ander dinge was en is tydelik. So het Johannesburg, wat sy boukuns betref, nooit na die verlede teruggekyk nie. As een van die snelgroeiendste metropole ter wêreld het Johannesburg dus ook nie geskroom om weg te doen met sy historiese erfenis nie. Historiese geboue moes plek maak vir nuwe wolkekrabbers, terwyl die implementering van die beleid van aparte ontwikkeling vir etniese groepe die sloping van hele woonbuurte soos Sophiatown beteken het.

Vandag is Johannesburg 'n smeltkroes van tale en kulture wat steeds nuwe aankomelinge van dwarsoor Afrika lok. Die stad, wat nege persent van die vasteland van Afrika se bruto geografiese produk oplewer, verseker vir sy inwoners 'n lewenstandaard bo die gemiddelde van Afrika. Sy stadsuitleg met funksionele buurte soos 'n sentrale en noordelike sakedistrik en honderde residensiële voorstede, wat 'n groot verskeidenheid sosio-ekonomiese omgewings en ontwikkelingsvlakke verteenwoordig, sy moderne boukuns en 'n netwerk van snelweë toon baie ooreenkomste met dié van Amerikaanse metropole.[6]

Net soos in New York Stad, een van Johannesburg se tweelingstede, het 'n wye kloof tussen arm en ryk en ander sosiale vraagstukke ook neerslag gevind in hoë misdaadsyfers. Johannesburg is saam met ander Derdewêreldmetropole soos Rio de Janeiro as een van die gevaarlikste stede ter wêreld gereken.[7] Volgens 'n 2018-studie deur Mercer oor die lewenskwaliteit in 231 stede regoor die wêreld het Johannesburg die 95ste plek verwerf, die derde beste in Suid-Afrika net na Durban en Kaapstad.[8]

  1. (en) "Johannesburg (South Africa)". Crwflags.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Maart 2020. Besoek op 6 Januarie 2019.
  2. (en) "Chronological order of town establishment in South Africa based on Floyd (1960:20-26)" (PDF). pp. xlv–lii. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 13 Julie 2019. Besoek op 14 Julie 2012.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 "Hoofplek Johannesburg". Sensus 2011.
  4. (en) "Johannesburg as a World City". The South African. 8 Januarie 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Desember 2015. Besoek op 26 Januarie 2019.
  5. (de) Bundeszentrale für politische Bildung – Dossier Afrika: Großstädte Afrikas – Kairo, Lagos und Johannesburg
  6. (en) Williams, Lizzie: Johannesburg – the Bradt City Guide. Chalfont St Peter: Bradt Travel Guides 2007, bl. VII
  7. (de) Godwin, Peter: Stadt der Hoffnung – Stadt der Angst. In: National Geographic Deutschland, April 2004, bl. 134
  8. (en) "Quality of Living Ranking". Mercer.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Februarie 2020. Besoek op 6 Januarie 2019.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne