Poskode

'n Sowjet-Russiese posseël van 1977 gee 'n voorbeeld van 'n poskode
'n Tweede seël uit die reeks verduidelik outomatiese possortering
Voorbeeld van 'n poskodestempel, soos gebruik in die Sowjetunie en Russiese Federasie

'n Poskode (Engels: post code, postcode, of ZIP code) is 'n reeks syfers of letters wat aan 'n streek, poskantoor, straat of fisiese adres gekoppel is, vir die hoofdoel om die outomatiese sortering van posstukke deur die poskantoor moontlik te maak. Die regte poskode help die poskantoor sodoende om posstukke vinniger af te lewer.[1]

Alhoewel poskodes gewoonlik geografiese gebiede aandui waar pos afgelewer moet word, is daar ook spesiale poskodes wat aan individuele posadresse of instellings gegee word wat groot volumes pos ontvang, soos byvoorbeeld regeringsinstellings of ondernemings.

Algemeen word die poskodestelsel, wat vanaf 1941 in die destydse Duitse Ryk ingevoer is, as die eerste sodanige stelsel ter wêreld genoem. Kenners wys nogtans daarop dat in die Oekraïense SSR reeds vanaf 1932 'n moderne indeksstelsel van poskodes toegepas is wat tot 1941 - die jaar van die Duitse besetting - deur posstempels gedokumenteer is. In die filatelistiese vakliteratuur het hierdie vroeë stelsel eers omstreeks 1970 belangstelling gewek nadat 'n artikel daaroor in 'n Kanadese vaktydskrif vir Russiese filatelie gepubliseer is.[2][3]

In Februarie 2005 het 117 van die 190 lidlande van die Wêreldposunie oor poskode-sisteme beskik. Die Wêreldposunie se tydskrif Union Postale vermeld in sy uitgawe 2/2005 dat altesaam 139 lande - waarvan 41 nywerheidslande en 98 ontwikkelende lande - reeds gebruik maak van poskodestelsels.[4] Die mees onlangse stelsels is onder meer in Panama (2007) ingevoer. In Ierland het oorspronklik net die hoofstad Dublin oor 'n poskode-stelsel beskik. 'n Landswye stelsel, EIRCODE, is in 2015 ingevoer.[5]

  1. HAT Afrikaanse skoolwoordeboek. Eerste uitgawe. Pinelands: Pearson Education South Africa 2009, bl. 425
  2. (de) Briefmarkenverein Bamberg: Einführung von Postleitzahlen ("Index") in der Ukrainischen SSR 1932. Besoek op 17 Februarie 2020
  3. Ukrainian Philatelic en Numismatic Society: The First Postal (ZIP) Code in the World (webargief). Besoek op 17 Februarie 2020
  4. "Union Postale - Zeitschrift des Weltpostvereins. Deutsche Ausgabe Nummer 2/2005 (April/Mai/Juni 2005), bl. 12" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 10 Mei 2020. Besoek op 17 Februarie 2020.
  5. www.irishtimes.com: Postcode system to be implemented within 18 months, 29 Junie 2013

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne