Pretoria-Tshwanenaamverandering

Die potensiële nuwe naam van Pretoria is nog steeds omstrede.
Bord dui die N1-snelweg na Pretoria aan.

Die Pretoria-Tshwanenaamverandering is formeel begin toe die Raad van die Stad van Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gedurende sy vergadering op 7 Maart 2005 besluit het om die Stad van Tshwane formeel as 'n geografiese pleknaam te registreer op die databasis van die Suid-Afrikaanse Geografiese Name Raad (SAGNR) in terme van die SAGNR Wet 118 van 1998. Die Stad van Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, waarin Pretoria, en 'n aantal omliggende dorpe geleë is, bestaan sedert 6 Desember 2000. [1].

Op 6 April 2005 is 'n kennisgewing in die koerante Beeld, Pretoria News en die Sowetan gepubliseer waarin die Raad kennis gegee het van sy besluit, en die publiek uitgenooi het om binne twee weke menings, sienings, opmerkings en/of voorstelle ten opsigte van die besluit skriftelik aan die Raad oor te dra. Op 26 Mei 2005 het die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad, wat gekoppel is aan die Direktoraat vir Erfenis in die Department van Kuns en Kultuur, toestemming verleen dat die naam van Pretoria na Tshwane verander mag word.[1] Hoewel die naamverandering deur die raad goedgekeur is, was dit teen die einde van 2006 nog nie deur die Minister van Kuns en Kultuur, Pallo Jordan goedgekeur nie. Die aangeleentheid is verder oorweeg nadat die minister gevra het dat meer navorsing daaroor gedoen moet word. Sou die minister die naamverandering goedkeur sou die naam in die Staatskoerant gepubliseer word waarna die publiek geleentheid sou hê om kommentaar te lewer. Die Minister kon dan die openbare reaksie na die Raad vir Geografiese Name terug verwys voor hy sy aanbevelings aan die parlement voorlê wat dan oor die saak sou stem.

Verskeie openbarebelangegroepe waarsku dat hulle die naamverandering in die hof sal betwis sou die minister die naamverandering goedkeur. Die naamverandering is as omstrede beskou aangesien dit nie die gevoelens van die groot blanke Afrikaanssprekende bevolking en die geskiedenis van die stad met sy historiese Voortrekker-agtergrond in ag neem nie. 'n Groot deel van die bevolking van die stad beskou dit as politieke en kulturele provokasie.

  1. Pretoria name change is approved, BBC

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne