Rusland

Russiese Federasie
Российская Федерация
Rossijskaja Federatsija (Russies)
Vlag van Rusland Wapen van Rusland
Vlag Wapen
Volkslied:
Государственный гимн Российской Федерации
(tr.: Gosoedarstwenni gimn Rossijskoi Federatsiji)
(Russies vir: "Nasionale Volkslied van die Russiese Federasie")
Ligging van Rusland
Hoofstad Moskou

55°45′N 37°37′O / 55.750°N 37.617°O / 55.750; 37.617

Grootste stad Moskou
Amptelike tale Russies1
Regering Federale
semi-presidensiële
grondwetlike republiek
Wladimir Poetin
Michail Misjoestin
Onafhanklikheid

2395 v.C.[1]
862
882
1169
1283
16 Januarie 1547
22 Oktober 1721
6 November 1917
10 Desember 1922
25 Desember 1991
12 Desember 1993
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
17 098 2462 (sonder Krim en Sewastopol)[2] km2  (1ste)
6 601 670 myl2
13[3] (insluitende moerasse)
Bevolking
 - 2022-skatting
 - Digtheid
 
147 182 123[4]
(insluitende Krim en Sewastopol) (9de)
8,4 / km2 (181ste)
21,8 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2023-skatting

$4 989 miljard[5] (6de)
$34 837[5] (49ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2023-skatting

$2 062 miljard[5] (12de)
$14 404[5] (67ste)

MOI (2021) 0,822[6] (52ste)  –  baie hoog
Gini (2020) 36,0[7](98ste) –  medium
Geldeenheid Roebel (RUB)
Tydsone
 - Somertyd
(UTC+2 tot +12)
nie toegepas nie (UTC+2 tot +12)
Internet-TLD .ru .su .рф
Skakelkode +7
1. 27 andere inheemse tale word sedert 1991 in verskeie streke as amptelike tale erken.
2. met Krim en Sewastopol is Rusland se oppervlakte 17 125 191 km² (6 612 073 myl²).[8]

Rusland (Russies: Росси́я, Rossija, [rɐˈsʲijə], ), amptelik die Russiese Federasie (Russies: Росси́йская Федерaция, Rossijskaja Federatsija, [rɐˈsʲijskəjə fʲɪdʲɪˈratsɨjə], ), is 'n land wat gedeeltelik in Europa en gedeeltelik in Asië lê. Die land lê egter vanuit 'n politieke oogpunt in Europa omdat die belangrikste deel, ook die hoofstad, Moskou, Europees is en sowat 70 persent van die bevolking daar woon.

Nasa-Satellietbeeld van Rusland
Rusland se Verre Ooste: Petropawlofsk-Kamtsjatski, geleë teen die voet van die Korjakski-vulkaan op die skiereiland Kamtsjatka

Met sy oppervlak van 17 098 246 km² is Rusland by verre die grootste land ter wêreld, byna twee maal so groot soos die tweede grootste land, Kanada. Dit grens aan (antikloksgewys van NW na SO): Noorweë, Finland, Estland, Letland, Litaue, Pole, Belarus, Oekraïne, Georgië, Azerbeidjan, Kasakstan, die Volksrepubliek China, Mongolië en Noord-Korea. Verder is dit deur 'n see of smal seestraat geskei van die Verenigde State van Amerika (Alaska), Kanada, Turkmenistan, Iran, Turkye, Swede en Japan.

Die moderne Russiese landsnaam Rossija vir Rusland het sy oorsprong in die Griekse weergawe Rossia van die historiese Oos-Slawiese benaming Roes (Rus) vir gebiede in die huidige Europese state Rusland, Belarus en Oekraïne wat deur Slawiërs bewoon is. Die vroegste bewoners het hulle sowat 100 000 jaar gelede in die weste van moderne Rusland gevestig. Voordat Slawiese groepe hulle vanaf die 6de eeu n.C. vanuit hul stamland in noordelike en suidelike rigting begin uitbrei het, is die noorde van Ruslad deur Fins-Oegriese en Baltiese volke bewoon, terwyl Indo-Europese steppevolke soos Koergan, Kimmerers, Skitiërs, Sarmate en Alane hulle in die suidelike streke gevestig het. Hulle is later opgevolg deur Grieke, Gote, Hunne en Aware.

Die oorspronklike Slawiese stamgebied was tussen die noordelike en suidelike streke in 'n gebied geleë wat rofweg deur die riviere Dnjepr en Boeg begrens is. Skandinawiese Wikings het vanaf die 8de eeu Oos-Europese riviere as krygers en handelaars bevaar en hulle hier met die Slawiese meerderheidsbevolking begin vermeng. Hierdie krygerkooplui, na wie ook as Waragiërs of Roes verwys word, het onder leiding van hul legendariese aanvoerder Rjoerik grootliks bygedra tot die stigting van die eerste Oos-Slawiese staat Kiëf-Roes met vroeë stedelike sentra in Nowgorod (gestig in 862) en Kiëf (tans Kijif, 879). Hul handelsbetrekkinge het tot Konstantinopel gestrek.

In die suidelike steppelandskappe en langs die Wolgarivier het Turkvolke uit Asië - Chasare en Wolga-Bulgare - ryke gestig wat handel gedryf het met die Roes, maar ook oorlog teen hulle gevoer het. Noue betrekkinge met die Bisantynse Ryk het grootliks bygedra tot Kiëf-Roes se aanvaarding van die Ortodokse Christelike geloof in 988.

Kiëf-Roes het uiteindelik verbrokkel en in talle klein feodale Russiese state verdeel. Die belangrikste hiervan was die Groothertogdom van Moskou of Moskowië. Moskou het mettertyd die omringende Russiese prinsdomme herenig en die plek van Kiëf-Roes ingeneem. Teen die 18de eeu het die land begin uitbrei en tot die groot en multi-etniese Russiese Ryk ontwikkel wat gestrek het van Pole in die weste tot die Stille Oseaan.

In die 20ste eeu het Rusland as die Russiese Sosialistiese Federale Sowjetrepubliek (RSFSR) die kernland gevorm van die Sowjetunie, die wêreld se eerste en grootste grondwetlik sosialistiese staat en saam met die Verenigde State van Amerika een van die wêreld se twee supermoondhede. Toe die Sowjetunie in 1991 verbrokkel, is die Russiese Federasie gestig as sy de jure-opvolger. Rusland is 'n permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en 'n voorste lid van die Gemenebes van Onafhanklike State (GOS) en die G8 (deelname tans opgeskort).

Die binne- en buitelandse beleid van die Russiese Federasie word in die 21ste eeu deur twee kwessies oorheers. Die demokratiseringsproses in die Russiese binnelandse beleid het tot stilstand gekom, terwyl die land op internasionale vlak pogings onderneem om sy historiese status as grootmoondheid te herwin. In 'n multipolêre wêreld, waar die Volksrepubliek China dieselfde aspirasies huldig, maar met 'n veel groter en meer gevorderde industriële basis, is sulke verwagtinge moontlik te hoog gestel. Met die Verenigde State as grootskaalse netto-energie-uitvoerder, onder meer van vloeibare gas, is daar intussen 'n strawwe mededinger op Rusland se belangrikste uitvoermarkte, alhoewel die land se grootste gasuitvoerder Gazprom tans op die Europese mark nog substansiële kostevoordele bo Amerikaanse produsente geniet.[9]

  1. (ru) "Сказание о Словене и Русе и городе Словенске из Хронографа 1679 года". novgorod.ru. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 September 2018. Besoek op 17 Januarie 2020.
  2. (en) "World Statistics Pocketbook 2016 edition" (PDF). United Nations Department of Economic and Social Affairs. Statistics Division. 2016. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 4 Augustus 2019. Besoek op 17 Januarie 2020.
  3. (en) "The Russian federation: general characteristics". Federal State Statistics Service. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Maart 2012. Besoek op 5 April 2008.
  4. (ru) "Том 1. Численность и размещение населения". Federale Statistiekdiens. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Januarie 2020. Besoek op 3 September 2022.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 (en) "Russia". Internasionale Monetêre Fonds. April 2023. Besoek op 27 Julie 2023.
  6. (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 27 Julie 2023.
  7. (en) "GINI index – Russian Federation". Wêreldbank. Besoek op 27 Julie 2023.
  8. (ru) "Сведения о наличии и распределении земель в Российской Федерации на 1 January 2017 (в разрезе субъектов Российской Федерации)". Rosreestr. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 April 2020.
  9. (de) Handelsblatt, 3 Julie 2019: Gazprom verdrängt US-LNG aus Europa. Besoek op 24 Julie 2019

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne