Die sinchroniese taalkunde (ook deskriptiewe taalkunde), is die werk om te ontleed en te beskryf hoe 'n taal deur 'n groep mense in 'n spraakgemeenskap gepraat word (of hoe dit in die verlede gepraat is). Alle navorsing wat in die taalkunde gedoen word is deskriptief; soos alle wetenskappe, is die oogmerk daarvan om die taalkundige wêreld waar te neem soos dit is, sonder die vooroordeel van vooropgesette menings oor hoe dit behoort te wees.
Die sinchroniese taalkunde word dikwels teenoor die normatiewe taalkunde gestel, wat hoofsaaklik in die opvoedkunde en in gedrukte werke gevind word. 'n Normatiewe benadering probeer standaardvorme in die taal definieer en raad gee oor doeltreffende taalgebruik, en kan beskou word as die poging om die vrug van die deskriptiewe navorsing in 'n leerbare vorm weer te gee, hoewel dit ook van meer subjektiewe aspekte van taalestetika gebruik maak. Die normatiewe en deskriptiewe aspekte vul mekaar uiteraard aan, maar het verskillende prioriteite en word soms as teenstrydig beskou.
Akkurate beskrywing van werklike spraak is 'n moeilike saak, en taalkundiges moes dikwels tevrede wees met uiters onakkurate skattings. Byna alle teorieë op die gebied van die taalkunde het hulle oorsprong in die praktiese probleme verbonde aan die sinchroniese taalkunde. Fonologie (en die teoriese ontwikkelinge daarin, soos die foneem) handel oor hoe moedertaalsprekers hulle taal uitspreek. Sintaksis het ontwikkel om te beskryf wat gebeur wanneer die fonetiek 'n gesproke taal tot 'n genormaliseerde kontrolevlak reduseer. Die leksikologie versamel "woorde" en hulle afleidings en verbuigings: dit het nie juis tot algemene teorieë aanleiding gegee nie.
'n Uiters "mentalistiese" beskouing ontken dat die beskrywing van 'n taal deur enigiemand anders as 'n vaardige spreker van daardie taal gedoen kan word. Sodanige sprekers het 'n innerlike, sogenaamde "taalkundige vaardigheid", wat hulle in staat stel om op grond van hulle ondervinding nuwe maar korrekte uitdrukkings af te lei en om onaanvaarbare uitdrukkings te verwerp.
Daar is tienduisende beskrywings van duisende tale wat saamgestel is deur mense sonder voldoende opleiding in die taalkunde. Met 'n paar bewonderenswaardige uitsonderings is alle taalkundige beskrywings wat voor ongeveer 1900 gedoen is, amateurpogings.
'n Taalkundige beskrywing word as goed genoeg beskou as dit aan een of meer van die volgende doelwitte van die sinchroniese taalkunde beantwoord:
Daar is ook 'n paar bonusonderwerpe wat ingesluit kan word, soos teksontleding en historiese rekonstruksies.