Unesco

Die vlag van Unesco
Lidlande van Unesco:

   Unesco-lidlande

   Oorsese gebied met aparte nasionale reëlingskomitees

   Assosiaatlede

   Waarnemerlande

Unesco is die Engelse afkorting vir United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie van die Verenigde Nasies), 'n spesiale organisasie van die Verenigde Nasies wat in 1945 gestig is en sy hoofkwartier in die Franse hoofstad Parys het. Tans het 192 lande as lede en 'n verdere ses as geassosieerde lede by Unesco aangesluit, waaronder ook Suid-Afrika, een van die twintig stigterslede.

Unesco is onderverdeel in 'n Algemene Konferensie van alle lidlande wat elke twee jaar vergader en 'n Uitvoerende Raad met 58 lede (wat deur die Algemene Konferensie verkies word), terwyl die Sekretariaat-Generaal Unesco se bedrywighede bestuur. Die laasgenoemde word deur die Sekretaris-Generaal bestuur wat vir 'n ampstermyn van vier jaar verkies word. Die huidige Sekretaris-Generaal is Koïchiro Matsuura (Japan) wat hierdie amp reeds sedert 15 November 1999 beklee.

Unesco is veral werksaam op die gebied van die onderwys, sosiale wetenskappe, natuurwetenskappe, die internasionale kulturele samewerking en die inligtingsbedryf (wat onder meer die pers, uitsaaidienste, televisie en filmkuns asook moderne kommunikasietegnologie insluit). Unesco bevorder ook geletterdheid in ontwikkelende lande en bewaar die wêreldkultuurerfenis. Die lys van wêrelderfenisgebiede word deur Unesco saamgestel.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne