Wapen (heraldiek)

Verskeie wapens.

Heraldiek of wapenkunde is van die studie van die ontstaan, ontwikkeling en betekenis van familie- en ander wapens, byvoorbeeld die van stede, lande en provinsies. Dit behels ook die studie van die wapenreg en die juiste manier van blasoenering van wapens. Die moderne heraldiek het sy oorsprong in die 12e eeu. Amptelike heraldiese instellings bestaan al eeue lank en in Suid-Afrika het die Buro vir Heraldiek in 1963 tot stand gekom.

Die woord heraldiek is afgelei van herout, en heroute was amptenare aan Middeleeuse howe wat plegtige bekendmakings en aankondigings namens die vors of regeerder by openbare byeenkomste gemaak het. Hy het ook as afgesant en boodskapper van die vorste of veldhere gedien en moes die seremonies aan die howe en by byeenkomste soos toernooie reël. Die herout moes bekend wees met die wapens, die regte en die eiendomme van die hoë en lae adel. Hy moes ook by feeste en toernooie die herkoms van die deelnemers verifieer deur die familiewapens wat hulle vertoon het. Mettertyd is registers van die wapens, die sogenaamde historiese wapenrolle, opgestel en op datum gehou. Die kennis wat op die manier ingewin is, het die grondslag gevorm vir die wetenskap van die heraldiek.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne