Beeld

Schalk Pienaar was net drie maande lank die eerste redakteur van Beeld toe hy in Januarie 1975 om gesondheidsredes moes uittree.

Beeld is 'n Afrikaanse koerant wat sedert 16 September 1974 in Johannesburg en Pretoria uitgegee word.

Die koerant is gestig as Nasionale Pers se teenvoeter vir Perskor se destydse vier Transvaalse dagblaaie, maar veral Die Transvaler. Nasionale Pers, wat in Kaapstad gesetel is en die suidelike, meer verligte groepering in die destydse Nasionale Party verteenwoordig het, was destyds in 'n stryd gewikkel met Perskor, wat die noordelike, meer behoudende groepering verteenwoordig het. Perskor het ten tyde van die stigting van Beeld twee Pretoriase dagblaaie, Hoofstad (wat smiddae verskyn het) en Oggendblad (wat soggens verskyn het), en twee Johannesburgse dagblaaie, die middagblad Vaderland en die oggendblad Die Transvaler uitgegee. Beeld het uiteindelik die stryd gewen met die verdwyning van al vier die destydse Perskor-dagblaaie. Sedertdien het geen ander Afrikaanse dagblad nog sy verskyning in die destydse Transvaal gemaak nie.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne