Android

Android [ˈændɹɔɪd] is 'n oopbron-bedryfstelsel en sagteware-platform vir mobiele toestelle soos slimfone, selfone, mediaspelers, netboeke en tabletrekenaars wat deur die Open Handset Alliance ontwikkel word, 'n konsortium van 84 ondernemings uit die inligtingstegnologie- en telekommunikasiebedryf wat belangstelling het in die bevordering van oop standaarde vir mobiele toestelle en wat deur die Amerikaanse maatskappy Google in die lewe geroep is. Android is die geesteskind van Andy Rubin, eienaar van die IT-maatskappy Android Inc wat in 2005 deur Google uitgekoop is. Die Android-bedryfstelsel is gebaseer op Linux en dit word vrygestel onder die Apache-lisensie. Die vervaardigers van selfone wat van Android gebruik maak, is onder andere Motorola, HTC, Huawei, Samsung en LG. Android was tot kort voor die openbare bekendstelling op 5 November 2007 bekend as die gPhone. Dié bekendstelling het gepaard gegaan met die stigting van die Open Handset Alliance.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne