Angssteuring | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
![]() | ||
Die Skreeu (Noors: Skrik), ’n Ekspressionistiese skildery deur die Noorweegse kunstenaar Edvard Munch. | ||
ICD-10 | F40-F42 | |
ICD-9 | 300 | |
DiseasesDB | 787 | |
eMedicine | med/152 | |
MeSH | D001008 | |
![]() |
Angssteurings is ’n groep geestesteurings wat gekenmerk word deur gevoelens van angstigheid en vrees,[1] waar angstigheid ’n kommer oor toekomstige gebeure is en vrees ’n reaksie op huidige gebeure.[1] Hierdie gevoelens kan fisieke simptome veroorsaak, soos ’n vinnig kloppende hart of bewerigheid.[1] Die steurings word gediagnoseer op grond van die hewigheid en duur van die angs en volgens besonderse kenmerke wat saam met die angs voorkom. Die angs gaan gewoonlik ook gepaard met erge fisieke simptome soos hartkloppings, aamborstigheid, sweet, gejaagde gedagtegang, innerlike bewing, die behoefte om te vlug, duiseligheid, asemhalingsprobleme, pyne in die bors, maagkrampe, hoofpyn, ensovoorts.
Daar is verskeie soorte angssteurings, soos algemene angssteuring, fobies en obsessief-kompulsiewe steuring. Elk het sy eie kenmerke en simptome, maar hulle word saam gegroepeer as angssteurings.[2] ’n Ondersoek in die VSA het aan die lig gebring dat sosiale en eenvoudige fobies die meeste voorkom (13,3% en 11,3%), terwyl agorafobie (5,3%), algemene angssteuring (5,1%) en panieksteuring (3,4%) die minste voorkom.[3]
Die genoemde studie het ook aan die lig gebring dat die onderskeie angssteurings dikwels tesame, of saam met ander geestesteurings, voorkom. Ongeveer 60% van die pasiënte wat aan obsessief-kompulsiewe steuring gely het, is byvoorbeeld later met depressie gediagnoseer, terwyl panieksteurings dikwels by skisofreniese pasiënte aanwesig was.