Die Christelike leerstelling van die Drie-eenheid (Latyn: Trinitas, van trinus, "drievoud")[1] leer dat God een God is, maar drie saambestaande persone[2] – die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Die hele skepping en idee van genade betrek al drie Goddelike persone, sodat alle dinge "van die Vader", "deur die Seun" en "in die Heilige Gees" is.[3] Prof. Kobus Kok verduidelik die Drie-eenheid aan die hand van ’n appel wat bestaan uit ’n skil, die vleis van die appel en die stronk. Die drie verskillende dele is almal appel, maar het verskillende funksies en gestaltes.[4]
Teoloë glo die manifestasie van die Drie-eenheid word reeds aan die begin van die Bybel duidelik gemaak. In Genesis 1:1-3 word by die skepping van die hemel en die aarde gepraat van "God" en die "Gees van God"[5][6]. In die eerste vers word in die Hebreeuse Bybel die meervoudige naamwoord Elohim gebruik. Dit dui op meer as twee.[7]
Die Bybel praat nêrens van die Drie-eenheid nie, maar die basis vir die ontwikkeling van die idee is in die Nuwe Testament gevind. Een van die belangrikste tekste wat op die Drie-eenheid dui, is Matteus 28:19: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees". Nog ’n Bybelgedeelte is Johannes 1:1-14 waar "die Woord" beskryf word. Dit toon weer die elemente van ’n drieledige God en hul ewige bestaan ("wat is en wat was en wat kom"; Openbaring 1:8).
Uit Romeine 8:9-11, waar gepraat word van die redding van verloste mense "deur sy Gees wat in julle woon", blyk duidelik die interafhanklikheid en interverwantskap tussen die Vader, Seun en Heilige Gees.
Toe in die 4de eeu besluit is om ’n Christelike belydenis te formuleer wat eenvormig is in die ganse Romeinse Ryk, is die geloofsbelydenis van Nicea op die eerste konsilie in dié stad (325 n.C.) aanvaar, waarin die idee van die Drie-eenheid duidelik uitgestippel word.[8]