Oahu

Oʻahu
Die Vergadereiland
Satellietfoto van Oʻahu
Satellietfoto van Oʻahu
Geografie
Location in the state of Hawaii
Ligging 21°28′N 157°59′W / 21.467°N 157.983°W / 21.467; -157.983
Oppervlakte 1 545,4 vk km
Geranglys 3de grootste eiland van die deelstaat Hawaii
Hoogste punt Mount Kaʻala
  1 220 m
Demografie
Bevolking 980 080 (jaar)
Bevolkingsdigtheid 634,2/vk km
Amptelike simbole
Blom Ilima
Kleur Mele Mele (Geel)

Oʻahu is die derde grootste eiland in die Amerikaanse deelstaat Hawaii wat ondanks sy relatief klein oppervlakte van 1 545 vierkante kilometer sowat 80 persent van Hawaii se bevolking huisves. Met Honolulu is ook die administratiewe, ekonomiese en kulturele sentrum van die deelstaat op Oʻahu geleë. Vanweë Oʻahu se strategiese ligging is sowat 'n kwart van die eiland se landoppervlakte tot militêre spergebied verklaar en is gevolglik ontoeganklik vir besoekers. Betreklik hoë lewenskoste vir eilandbewoners en beter beroepsgeleenthede op die Amerikaanse vasteland het tussen 2010 en 2018 'n negatiewe nettomigrasie van byna 62 000 vir Oahu tot gevolg gehad.[1]

Die kristalblou water van Waikikistrand (Honolulu)

In teenstelling met die meeste ander eilande beskik Oʻahu nie oor sy eie kleurryke bynaam nie – The Gathering Island ("Die Vergadereiland") is net 'n letterlike vertaling van die inheemse naam Oʻahu, maar is geleidelik as amptelike bynaam ingeburger. Die benaming dateer vermoedelik uit die tydperk toe die verskillende Hawaise koninkryke nog onderling oorlog gevoer het en die monarge in vredestye op hierdie eiland vir samesprekings vergader het. Aangesien die grootste deel van Hawaiï se bevolking tans op die eiland gekonsentreer is en ook meer as die helfte van die jaarlikse ses miljoen toeriste op Oʻahu tuisgaan, het die naam ook 'n nuwe moderne betekenis verkry.

Met 'n lengte van 70 kilometer en 'n wydte van 50 kilometer het Oʻahu die vorm van 'n ruit met 'n groot skiereiland in die suidooste waar talle vulkaankraters, die grootste stad Honolulu en 'n groot aantal besienswaardighede geleë is. Twee groot bergreekse strek langs die wes- en die ooskus dwarsoor die eiland; die Koolau-reeks met 'n lengte van 50 kilometer en 'n maksimale hoogte van sowat 960 meter, en die Waianae-berge met 'n lengte van sowat 25 kilometer en 'n maksimumhoogte van 1 200 meter.

Die vlakte tussen die twee bergreekse bevat vrugbare landbougebiede waar onder meer pynappels en suikerriet verbou word. Die grootste deel van die bevolking is in Honolulu gekonsentreer, en die stadsgebied het lankal begin om na die landbougebiede en langs die kusstroke uit te brei.

  1. Hawaii News Now, 25 April 2019: Over 8 years, nearly 62,000 more people left Oahu for the mainland than came in. Besoek op 27 Augustus 2020

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne