Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Singalees.
Die Singalese (Singalees: සිංහල ජාතිය Sinhala Jathiya) is 'n Indo-Ariese etniese groep inheems aan Sri Lanka wat Singalees as moedertaal praat. Hulle vorm die grootste bevolkingsgroep in die suidelike en westelike provinsies van Sri Lanka. Singalese vorm byna 75% van Sri Lanka se bevolking, die ander 25% is Tamils in die noordelike en oostelike provinsies.
Singalese is oorwegend aanhangers van Theravada-Boeddhisme met 'n klein minderheid van Rooms-Katolieke, veral langs die kusgebiede. Die Boeddhisme in Sri Lanka is sterk beïnvloed deur Hindoeïsme, nie net weens Sri Lanka se ligging naby Indië se suidkus nie, maar ook omdat die Singalese tot die 3de eeu v.C. self Hindoes was. Die samelewing is gekenmerk deur 'n kastestelsel soortgelyk aan die Indiese s'n.
Sedert Sri Lanka se onafhanklikheid van die Britse Ryk in 1948 is die binnelandse beleid oorskadu deur die konflik met die Tamils wat vir hul eie onafhanklikheid geveg het. Dit het in 1983 tot die uitbreek van die Sri Lankaanse Burgeroorlog gelei, wat tussen die Sri Lankaanse regering en die Tamilse tiers geveg is. In 2003 is onder bemiddeling van die Verenigde Nasies en die regering van Noorweë 'n skietstilstand tussen beide kante goedgekeur, wat in 2006 deur die Sri Lankaanse regering beëindig is. Nadat die Tamilse tiers uiteindelik verslaan en hul leiers doodgemaak is, het president Mahinda Rajapaksa die burgeroorlog in 2009 amptelik beëindig.