Taiping-rebellie

Die Taiping-rebellie of Taipingopstand was 'n massiewe burgeroorlog in Suid-China van 1850 tot 1864, teen die heersende deur Mantsjoes geleide Qing-dinastie. Dit word gelei deur Hong Xiuquan wat in visioene die boodskap gekry het dat hy 'n jonger broer van Jesus was. 20 tot 30 miljoen mense, veral burgerlikes, het in een van die dodelikste militêre konflikte in die geskiedenis gesterf.

Hong het die Hemelse Koninkryk van Volmaakte Vrede gestig met sy hoofstad in Nanjing. Die leër van hierdie koninkryk het groot dele van suidelike China beheer; in sy bloeitydperk het dit 'n gebied beheer wat die tuiste van 30 miljoen mense was. Op die agenda van Hong se volgelinge was sosiale hervormings, soos gemeenskaplike eiendom en gelykheid vir vroue. Konfusianisme, Boeddhisme en Chinese volksgelowe moes vervang word deur hul weergawe van die Christendom. As gevolg van hul weiering om 'n vlegsel te dra, is die Taiping-troepe deur hul teenstanders "Langhare" genoem. Die Qing-regering het uiteindelik die opstand met die hulp van die Franse en die Britte verslaan.

In die 20ste eeu het Sun Yat-sen, stigter van die Kuomintang, die opstand as 'n bron van inspirasie gesien. Kommunistiese leier Mao Zedong het die Taiping-rebelle geprys as vroeë revolusionêre teen 'n korrupte feodale stelsel.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne