Die Koninkryk Israel (Bybelse Hebreeus:מַמְלֶכֶת יִשְׂרָאֵל, Mamleḵeṯ Yīśrāʾēl), die Koninkryk Samaria of of die ryk van die Tien Stamme[1]was 'n Israelitiese koninkryk in die Ystertydperk in die Suid-Levant. Die koninkryk het die gebiede Samaria, Galilea en dele van die Transjordaan beheer. Die streke Samaria en Galilea het in die 10de eeu v.C. 'n tydperk met baie nedersettings beleef,[2] met die hoofstad in Sigem en daarna in Tirsa. Die Omri-dinastie het in die 9de eeu v.C. oor die koninkryk geheers, met die politieke sentrum in Samaria.
Volgens die Hebreeuse Bybel was die Koninkryk Israel een van die twee opvolgerstate van die Verenigde Koninkryk van konings Saul, Dawid en Salomo, terwyl die ander een die Koninkryk Juda in die suide was. Baie historici en argeoloë glo egter nie in die bestaan van 'n Verenigde Koninkryk soos wat dit in die Bybel uitgebeeld word nie.[3]
Die Koninkryk Israel is omstreeks 720 v.C. deur die Nieu-Assiriese Ryk verower.[4] Volgens die rekords van Sargon II van Assirië het hy 27 290 Israeliete – omtrent 'n vyfde van die bevolking – na Mesopotamië verban.[5] Dié verbanning het die basis geword vir die Joodse idee van die 10 Verlore Stamme van Israel.
Sommige Israeliete het na die suidelike koninkryk, Juda, migreer[6] terwyl dié wat in Samaria gebly het, bekend geword het as die Samaritane.[7][8] Die Assiriërs het ook buitelandse groepe gevestig in die gebiede van die verowerde koninkryk.[8]