Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Pole |
Woiwodskap | Klein-Pole |
Koördinate | 50°4′N 19°56′O / 50.067°N 19.933°O |
Stigting (eerste verwysing) | 965 |
Stadstatus | 1257 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 326,8 vk km |
Hoogte bo seevlak | 188–383 m |
Bevolking: | |
- Totaal (30 Junie 2014) | 759 383[1] |
- Bevolkingsdigtheid | 2 323/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 1 468 427 |
Tydsone | MET (UTC +1) |
- Somertyd | MEST (UTC +2) |
Klimaat | |
- Tipe | Kontinentaal-gematig |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 8,6 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | -2,9 / 19,3 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 644 mm |
Stadspresident | Jacek Majchrowski |
Amptelike Webwerf | www.krakow.pl |
Krakow (Pools: Kraków, uitspraak: "Krakoef", ) is die hoofstad van die woiwodskap Klein-Pole en aan die boloop van die Weichsel-rivier in die suide van Pole, sowat 250 kilometer suid van Warskou geleë. Dit is die tweede grootste metropool in die land met 'n bevolking van meer as 750 000 in die stads- en sowat 1,5 miljoen in die metropolitaanse gebied.
Die huidige stad het reeds in die 10de eeu bestaan; die eerste verwysing na Krakow as die groot nedersetting Karako gaan terug op Ibrahim ibn Jakoeb, 'n gesant van die kalief van Córdoba in Spanje, wat in die 10de eeu deur Europa gereis het. In die tydperk tussen 1035 en 1596 het Krakau as Poolse hoofstad gefungeer, en daar word nog steeds na Krakau as die "heimlike hoofstad van Pole" verwys.
Krakow het tot 'n beduidende sentrum van nywerhede, wetenskap en kultuur ontwikkel en beskik met die Jagielloniese Universiteit oor die tweede oudste universiteit in Sentraal-Europa. Die stadsentrum word deur 'n groot verskeidenheid geboue in die Gotiese, Renaissance-, Barok- en latere boustyle oorheers. Met sowat 5 500 historiese geboue en 2,5 miljoen kunswerke, wat meer as 1 000 jaar se stadsgeskiedenis lewendig laat word, het Krakau - vir kunsliefhebbers lankal die belangrikste reisbestemming in Pole - die status van UNESCO-wêrelderfenis gekry.
Naas Praag is Krakow een van slegs twee groot stede in oostelike Sentraal-Europa wat in die laaste wêreldoorlog nie onder oorlogshandelinge soos lugaanvalle moes ly nie, al het die na-oorlogse kommunistiese bewind talle historiese geboue gedeeltelik laat verval.