Proteas

Hierdie artikel handel oor die krieketspan. Vir die artikel oor die plant, sien Protea.
Suid-Afrika
Kenteken van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan
BynaamProteas
KonferensieKrieket Suid-Afrika (KSA)
Personeel
ToetskapteinTemba Bavuma
EDI-kapteinTemba Bavuma
T20I-kapteinAiden Markram
AfrigterVlag van Suid-Afrika Shukri Conrad
Geskiedenis
Toetsstatus verkry1889
Internasionale Krieketraad (IKR)
IKR-statusVolle lid (1909)
IKR-streekAKV (Afrika)
IKR-ranglys Tans[1] Beste rang tot dusver
Toetsrang2de1ste (1 Januarie 1969)
EDI6de1ste (1 Mei 1996)
T20I6de1ste (8 Augustus 2012)
Toetswedstryde (Toetse)
Eerste toetst Vlag van Engeland Engeland op St. Georgespark, Port Elizabeth; 12–13 Maart 1889
Laaste toetst Vlag van Australië Australië op Lord’s, Londen; 11–14 Junie 2025
Toetse Gespeel Gewen/Verloor
Algeheel[2]473186/161 (39,32%)
(0 gelykop, 126 onbeslis)
Vanjaar[3]22/0 (0 gelykop, 0 onbeslis)
Wêreldtoets-
kampioenskappe
4/4 (eerste in 2019–2021)
Beste uitslagKampioen (in 2023–2025)
Internasionale eendagwedstryde (EDIs)
Eerste EDIt Vlag van Indië Indië op Eden Gardens, Kolkata; 10 November 1991
Laaste EDIt Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland op Gaddafistadion, Lahore; 5 Maart 2025
EDIs Gespeel Gewen/Verloor
Algeheel[4]686415/244 (60,49%)
(6 gelykop, 21 onbeslis)
Vanjaar[5]52/3
(0 gelykop, 0 onbeslis)
Krieketwêreldbeker-verskynings9/13 (eerste in 1992)
Beste uitslagHalfeindrondte (in 1992, 1999, 2007, 2015 en 2023)
Kampioenetrofee-verskynings9/9 (eerste in 1998)
Beste uitslagKampioen (in 1998)
Twintig20-internasionale wedstryde (T20Is)
Eerste T20It Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland op Wanderers, Johannesburg; 21 Oktober 2005
Laaste T20It Vlag van Pakistan Pakistan op SuperSport-park, Centurion; 13 Desember 2024
T20Is Gespeel Gewen/Verloor
Algeheel[6]196108/84 (55,10%)
(1 gelykop, 3 onbeslis)
Vanjaar[7]00/0
(0 gelykop, 0 onbeslis)
T20I-wêreldbeker-verskynings9/9 (eerste in 2007)
Beste uitslagNaaswenner (in 2024)
Toetsklere
EDI-klere
T20I-klere

Die Proteas is die nasionale krieketspan wat Suid-Afrika in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur Krieket Suid-Afrika (KSA) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Die Proteas is na die koningsprotea, die nasionale blom van Suid-Afrika, genoem. Krieket is een van Suid-Afrika se nasionale sportsoorte en die Proteas behoort tot dié land se vernaamste nasionale spanne. Die Proteas is tans (Junie 2025) tweede op die IKR-toetsranglys, sesde op die eendagranglys en sesde op die Twintig20-wêreldranglys.[8][9][10]

Suid-Afrika is die derde oudste nasionale span in toetskrieket en het tydens die 1888/89-seisoen sy eersterangse en internasionale krieketdebuut gemaak, toe Suid-Afrika ’n toerende Engelse nasionale krieketspan gehuisves het. Aan die begin kon die span nóg teen Australië nóg teen Engeland meeding, maar nadat hulle beide ervaring en kundigheid verkry het, kon die Proteas aan die begin van die 20ste eeu ’n mededingende span op die veld stuur. Die span het tot in die 1960’s gereeld teen Australië, Engeland en Nieu-Seeland gespeel, maar nadat ’n onverbiddelike weerstand teen Suid-Afrika se apartheidsbeleid ontstaan het, is ’n internasionale verbanning deur die IKR aangekondig, nadat ander internasionale beheerliggame Suid-Afrika ook uitgesluit het. Vervolgens het Suid-Afrika nie aan die eerste vier krieketwêreldbekertoernooie (in 1975, 1979, 1983 en 1987) deelgeneem nie. Toe die verbanning ingestel is, het Suid-Afrika oor ’n span met spelers soos Eddie Barlow, Graeme Pollock en Mike Procter beskik wat destyds as die beste span ter wêreld beskou is.

Die uitsluiting uit internasionale krieket was tot in 1991 in werking en ná hul hertoelating kon Suid-Afrika teen ander toetslande soos Indië, Pakistan, Sri Lanka en Wes-Indië speel. Die span vertoon sterk sedert hul hertoelating en het by tye die eerste plek op die onderskeidelike internasionale ranglyste beklee, maar het tot dusver minder sukses tydens internasionale toernooie behaal. Al is Suid-Afrika telkens een van die gunstelingspanne om beide die krieketwêreldbeker en die T20I-wêreldbeker te verower, het dié eer hulle nog nie te beurt geval nie. Hul beste prestasie tot dusver is die halfeindstryd, wat die Proteas tydens vyf krieketwêreldbekertoernooie gehaal het (in 1992, 1999, 2007, 2015 en 2023) en die eindstryd tydens die T20I-wêreldbeker 2024, waar hulle naelskraap teen Indië verloor het. Die Proteas het die IKR se Kampioenetrofee tydens hul debuut en die goue medalje tydens die Statebondspele ingepalm (albei in 1998). In 2025 het die Proteas in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap 2023–2025 Australië met vyf paaltjies verslaan en sodoende hul tweede IKR-titel gewen. Van die noemenswaardige spelers sedert hertoelating is Allan Donald, Makhaya Ntini, Shaun Pollock, Jacques Kallis, Graeme Smith, Kagiso Rabada, AB de Villiers, Dale Steyn, Herschelle Gibbs, Faf du Plessis, Morné Morkel, Imran Tahir, David Miller en Hashim Amla. Nege voormalige Suid-Afrikaanse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.

  1. (en) "ICC Rankings". Internasionale Krieketraad.
  2. (en) "Test matches – Team records". ESPNcricinfo.
  3. (en) "Test matches – 2025 Team records". ESPNcricinfo.
  4. (en) "ODI matches – Team records". ESPNcricinfo.
  5. (en) "ODI matches – 2025 Team records". ESPNcricinfo.
  6. (en) "T20I matches – Team records". ESPNcricinfo.
  7. (en) "T20I matches – 2025 Team records". ESPNcricinfo.
  8. (en) "Men's Test Team Rankings". Internasionale Krieketraad. 14 Junie 2025. Besoek op 15 Junie 2025.
  9. (en) "Men's ODI Team Rankings". Internasionale Krieketraad. 12 Junie 2025. Besoek op 15 Junie 2025.
  10. (en) "Men's T20I Team Rankings". Internasionale Krieketraad. 30 Mei 2025. Besoek op 15 Junie 2025.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne